
Die lieflike glansboek oor die Vrystaat, Vrystaatse Dorpe deur dr. Jan van der Merwe, het 'n baas gekry.
Maar voordat ons die naam van die wenner onthul... Ons was aangenaam verras deur die wonderlike reaksie van ons lesers nadat ons die kompetisie bekend gemaak het. Van heinde en verre het die inskrywings ingestroom: Heilbron, Brits, Potchefstroom, Richardsbaai, Pretoria, Lydenburg, Bethlehem, Hluhluwe, Hartwater, Sasolburg, Rayton, Bellville, Lindley, Aliwal-Noord, Beaufort-Wes, Bloemfontein, Steynsrus, Kroonstad... en nog baie meer!
Een maal ‘n Vrystater, altyd ’n Vrystater. Dis die indruk wat 'n mens kry as jy die inskrywings vir die boek fynkam. Want soveel mense wat inskryf het, het laat weet: Ek is ’n oud-Vrystater. My wortels en my hart is steeds daar, al woon en werk ek nou elders.
Wilna Snyman het uit Brits laat weet: “Ons woon en werk in Brits, Noordwes, maar ekself is gebore in Kroonstad, my hele familie is steeds Vrystaters. Heilbron, Edenville, Kroonstad, Frankfort. My nooiensvan was Leonard.” Marie du Plooy van Bloemfontein skryf: “Die woord Vrystaat! het nog altyd my hart vinniger laat klop, al is ek 'n gebore Suid-Kapenaar en ek sal oorstelp van vreugde wees om hierdie lieflike koffietafelboek, Vrystaatse Dorpe, te wen.” Henk Joubert laat weet uit Pretoria: “Opwindend! Ek sal graag in aanmerking wil kom vir 'n trekking. Het ’n huis op Vredefort en ’n erf op Koppies.” Willem Swiegers skryf: “Ek woon in Pietersburg, maar is 'n gebore Vrystater en baie lief vir die dorpies daar met al hul geskedenis. Ek het die lekkerste rugby in daai klein dorpies gespeel terwyl ek 'n polisieman op Memel was.”
Ons het ons kantoorbestuurder, Patricia Potgieter, gevra om die wenner uit al die name wat behoorlik in ’n houer geskommel is, te trek. En die wenner is… Elma Theunissen van Bloemfontein!
Elma het laat weet dis die eerste keer in haar lewe dat sy ’n prys wen. Sy is 'n gebore en getoë Vrystater, want sy is op Wepener gebore en woon en werk nou al jare lank in Bloemfontein. “Ek is absoluut verheug oor die boek, baie dankie vir die geleentheid om te kon inskryf.”
Ons wil ook al ons lesers bedank vir al hul moeite met die inskrywings. Hou Landbou.com dop, daar wag nog lekker kompetisies net om die draai.