
’n Memorandum is aan 110 organisasies en ambassades oorhandig wat hulle versoek om diplomatieke druk op die Suid-Afrikaanse regering toe te pas oor plaasmoorde en –aanvalle. Dié stap vorm deel van AfriForum se Stop die Moorde-veldtog wat in Augustus bekend gestel is.
Luidens ’n verklaring is kopieë van die boek Land of Sorrow (die Engelse weergawe van Treurgrond) en die dokumentêre film War of the Flea, by die memorandums ingesluit.
“Ons uiteindelike doel is om die Regering te oortuig om plaasmoorde tot ? prioriteitsmisdaad te verklaar en om spesialiseenhede vir landelike veiligheid daar te stel. Met hierdie aksie wil ons die internasionale gemeenskap in kennis stel van ? katastrofe wat deur ons eie regering uit die gesig uit geboender word,” aldus mnr. Ernst Roets, adjunk-uitvoerende hoof.
Die president kry ook kopie
’n Kopie van die memorandum, die boek, die film, en ’n brief is ook Donderdag, 4 Oktober 2012, aan ’n verteenwoordiger van pres. Jacob Zuma oorhandig.
Volgens Roets het die organisasie spesifiek gefokus op lande en instellings wat nog nie van die probleem bewus is nie, én wat moontlik diplomatieke druk kan uitoefen. ’n Aantal mediamaatskappye is ook geïdentifiseer. AfriForum sal met die 110 instansies opvolg of hulle wel die memorandum ontvang het.
Druk op die Regering
“Ons beplan ook om meer aktief betrokke te raak by netwerke vir gemeenskapsveiligheid en om op plaaslike vlak selfs groter druk op die Regering te plaas,” verduidelik Roets. Hy sê aan die einde van dié maand sal ? omvattende navorsingsverslag oor plaasaanvalle, wat vir AfriForum saamgestel is, bekend gestel word.
Intussen vind ’n protesoptog Vrydag, 5 Oktober 2012, voor die Suid-Afrikaanse ambassade in Warskou, Pole, plaas teen plaasmoorde en –aanvalle. Luidens ’n verklaring word dié optog deur Duma i Nowoczesnosc Society, ’n organisasie wat staan vir trots en moderniteit, gereël.