Lede van die Unrepresented Nations and People-organisasie (UNPO) gaan op sy 13de algemene vergadering oor die situasie rondom “Skiet die boer” ingelig word.
Luidens ’n verklaring sê dr. Pieter Mulder, die adjunkminister van Landbou, Bosbou en Visserye en ook die leier van die Vryheidsfront Plus, hy gaan die 50 lede wat sowat 200 miljoen mense wêreldwyd verteenwoordig, oor die saak inlig.
Mulder beoog ook om uit te brei oor die situasie wat minderhede tans in Suid-Afrika in die gesig staar. ‘‘Die wêreld moet kennis neem van die Malema-uitsprake en van die ANC se standpunte daaroor.
"As die ANC dreig om Grondwethof toe te gaan oor regter Colin Lamont se uitspraak dat ‘‘Skiet die boer’’ nie haatspraak is nie, stuur dit ’n baie negatiewe boodskap oor verhoudinge in Suid-Afrika die wêreld in.”
Mulder meen dat hoewel ’n oorvereenvoudigde boodskap van die situasie in die land die wêreld ingestuur word, daar nie van die res van die wêreld verwag kan word om die ingewikkeldhede van die ANC-politiek te verstaan nie.
Voorbereiding
Hy sê die wêreld moet deurgaans en betyds oor die goeie en slegte gebeure in Suid-Afrika ingelig word. ‘‘As daar ’n krisis in Suid-Afrika sou kom, moet die internasionale wêreld ingelig wees ten einde die nodige besluite te kan neem. Dit is te laat om tydens ’n krisis eers te begin met ’n buitelandse inligtingspoging."
Voordelige gebeure, soos die Wêreldbeker-sokkertoernooi en die infrastruktuur uitbreiding wat dit tot gevolg gehad het, sal op Mulder se besprekingsagenda wees.
Hy sal ook aandag gee aan die goeie gesindheid wat onder die meerderheid van die land se bevolking bestaan. Wat slegte gebeure betref, gaan Mulder veral op plaasmoorde fokus.
Die vergadering vind Vrydag en Saterdag (16 en 17 September 2011) in Brussel, België, plaas. Mulder is verlede jaar tot die dagbestuur van die organisasie verkies. Die UNPO is ’n internasionale organisasie wat in belang van minderhede regoor die wêreld optree.
16 September 2011