
Vandag, 20 Mei, is Wêreldbyedag. Die doel van die dag is om die rol van bye en ander bestuiwers in die wêreld se ekostelsels te erken.
Volgens die Wes-Kaapse byebedryfsvereniging is Suid-Afrika se twee inheemse heuningbybevolkings veerkragtig vergeleke met heuningbye in die res van die wêreld waar vreeslike voorspellings oor hul oorlewing op die duur gemaak word.
Klimaatsverandering, boerderypraktyke wat diversiteit verlaag, die roekelose gebruik van plaagdoders, en byeplae en -siektes veroorsaak groot verliese aan heuningbye wat as die voorste bestuiwers beskou word.
Die grootste probleem vir Suid-Afrikaanse byeboere is kwynende voerbronne vir hul heuningbye.
Dit bedreig die grootskaalse bestuiwingsdiens wat byeboere aan die plaaslike landbou lewer.
Suid-Afrika se voorste heuningbywetenskaplike, mnr. Mike Allsopp van die Landbounavorsingsraad, loof die Kaapse heuningby veral vir sy weerstand teen vuilbroedsiekte (foul brood disease), ’n plaag wat byeboerdery in baie wêrelddele verwoes het.
Die Kaapse heuningby is een van twee inheemse heuningbye wat in Suid-Afrika voorkom en inheems aan die fynbosbioom. Die ander is die Afrika-heuningby (Apis mellifera scutellata).
Onvrugbare werkers kan eiers lê
Die unieke vermoë van die onvrugbare vroulike werkers in Kaapse heuningbykolonies om vrugbare eiers te lê, boei heuningbywetenskaplikes al vir jare.
Die werkers is in staat om hulself te kloon, iets wat gewoonlik gebeur as die koningin voortydig vrek. Sodoende word die kolonie van uitwissing gered.
Dié uiters seldsame verskynsel staan in die wetenskaplike wêreld bekend as “thelytokous parthenogenesis” en is tot dusver by een in 1 000 beskryfde dierspesies aangemeld.
Meer onlangs het wetenskaplikes ondersoek ingestel waarom die Kaapse heuningby so veerkragtig teenoor die hoogs vernietigende myt Varroa destructor.
Volgens Allsopp het die verskyning van Varroa destructor in Suid-Afrika in 1995 “paniek soos nog nooit tevore nie” veroorsaak.
Varroa-myte verslind ’n heuningby-orgaan wat die vetliggaam genoem word, en kan hele kolonies só uitwis.
Byeboere elders ter wêreld moes hul korwe met plaagdoders behandel om Varroa te bekamp, maar die myt saai steeds verwoesting.
In hul pogings om te verstaan hoekom die Kaapse heuningby nie deur Varroa vernietig is nie, het wetenskaplikes verdere seldsame gedrag by die bye waargeneem.
Allsopp sê hulle het gevind dat “verpleegsterbye” in korwe gereeld die wasdeksels van die selle waarin die larwes, of bababye, ontwikkel, verwyder. Dit is ’n groot werk, aangesien elke kant van die kam tot 4 000 selle kan hê.
As die verpleegsterbye ’n probleem opspoor, haal hulle die larwes uit en gooi dit weg.
Allsopp sê die ongewone herhalende gedrag kom daarop neer dat bye gereeld “onder die enjinkap” kyk, en dat dit die belangrikste rede is waarom Kaapse bye Varroa en ander ernstige siektes soos Amerikaanse vuildbroedsiekte kan oorkom.
Die feit dat Kaapse heuningbye tot “maagdegeboortes” in staat is, fassineer wetenskaplikes die meeste.
Volgens Allsopp het hulle ook vasgestel dat vroulike werkerbye in Kaapse heuningbykolonies die verbysterende vermoë het om dieselfde feromone as die koningin te produseer.
Die koningin stel die feromone vry om sake in die kolonie glad te laat verloop. Die werkers boots dit na en word pseudo-koninginne, wat die koninklike eerbied van ander werkers ontvang wat normaalweg vir ’n regte koningin gereserveer is.
‘Unieke sosiale parasiet’
Die wonders van die Kaapse heuningby het ook ’n sinistere kant: Die lêwerkers kan die korwe van Suid-Afrika se ander inheemse heuningbye wat buite die fynbosbioom voorkom, infiltreer en oorneem.
Dít maak die Kaapse heuningby ’n “unieke sosiale parasiet”, wat veroorsaak dat dit as ’n biosekerheidsbedreiging in ander wêrelddele gelys word. Mense wat probeer om die Kaapse heuningby in Amerika in te bring, kan van terrorisme aangekla word.