
Die Wêreldorganisasie vir boere (WFO), ’n verenigde stem vir boere en koöperasies wêreldwyd, het vir die eerste keer by Spier, buite Stellenbosch, vergader.
Tydens ’n perskonferensie ná die konferensie het mnr. Robert Carlson van Amerika, nuutverkose voorsitter van die organisasie, die stigting van die organisasie as ’n “trotse, maar uitdagende oomblik” beskryf, maar bygevoeg daar is veel te doen om die mag van boere te versterk.
Erkenning aan landbou-organisasies
Mnr. Ron Bonnett, ’n raadslid van die organisasie en beesboer van Ontario, Kanada, het gesê daar is ’n groter erkenning vir die rol wat landbou-organisasies kan speel om globale kwessies, soos voedselsekerheid en klimaatsverandering, te takel.
Die idee vir so ’n organisasie het meer as ’n jaar gelede ontstaan en het ten doel om landbouprodusente-organisasies en -koöperasies byeen te bring in ’n organisasie wat namens boere wêreldwyd kan praat om uiteindelik die ekonomiese posisie te verbeter van boere en die gemeenskappe waarin hulle woon.
Noue samewerking
Die organisasie sal ten nouste saamwerk met internasionale organisasies, soos die Voedsel- en Landbou-organisasie en IFAD (die internasionale fonds vir landbou-ontwikkeling).
Die organisasie se hoofkantoor gaan in Rome, Italië, wees. Ander raadslede van die organisasie is mnre. Jervis Zimba van Zambië, Akira Banzai van Japan, Ron Bonnett van Kanada en me. Berit Hundåla van Noorweë.
Hulle sal die organisasie verteenwoordig by byeenkomste oor voedselsekerheid, klimaatsverandering en volhoubaarheid.
13 September 2011