
Groot katspesies soos leeus en tiere bevind hulself tans in ‘n wêreldwye oorlewingskrisis, meen Four Paws – ‘n internasionale natuurbewaringsorganisasie.
Me. Fiona Miles, die direkteur vir Four Paws Suid-Afrika, sê 5000 leeus leef tans in aanhouding op sowat 160 leeuplase landwyd.
“Die meeste van hierdie leeus word in aanhouding gebore en grootgemaak, en is uiteindelik bestem vir ‘n einde van geblikte jag”, vertel Miles. Sy het die aankondiging die afgelope naweek (5 Februarie) tydens die vrylating van ‘n jong Bengaalse tier op Lionsrock naby Bethlehem gemaak.
Four Paws en die Prinses Alia-stigting het dié dier in Jordanië van ‘n dieretuin gered en vir hom hier ‘n veilige tuiste gevind.
Kommer oor leeus
Miles sê hulle is baie bekommerd oor die situasie rondom leeutelery en geblikte jag in Suid-Afrika.
Volgens haar kom die meeste leeuteelplase in die Vrystaat, Noordwes en Limpopo voor.
“Ons weet van byvoorbeeld een leeuplaas in Noordwes waar sowat 500 leeus aangehou word. Dié eienaar het verlede jaar 100 leeus laat jag en skiet, en teen ‘n gemiddelde inkomste van R250 000 per gejagte leeu, het hy ‘n inkomste van R10 miljoen in 2010 uit leeus gemaak”, vertel Miles.
Sy sê hulle is baie teleurgesteld oor die hofbevel van verlede jaar wat bevind het dat ‘n leeu wat op ‘n teelplaas gejag word, nie vir twee jaar vrylopend hoef te wees voordat dit gejag word nie.
“Animal Pimping”-bedryf?
Miles maan tieners en jong mense, wat as deel van opleiding en soms liefdadigheidswerk op teelplase gaan werk om welpies te help versorg, dat hulle eintlik deel word van die “animal pimping”-bedryf.
“Hulle help dus net die eienaars om die dier – wat elke maand tot twee maande deur iemand anders versorg word – aan mense gewoond te maak voordat dit verkoop of grootgemaak word om gejag te word. Van dié welpies word as hulle drie dae oud is van hulle ma geskei – sodat sy vinniger op hitte kan gaan om verder te teel. Hulle word soms ook tussen teelplase uitgeruil of verkoop”, vertel Miles.
7 Februarie 2011