
Die Wes-Kaapse departement van landbou het reeds in 2015 ’n interdepartementele proses onderneem vir die verhoging van die wal van die kanaal wat in die Brandvleidam inloop. Dit is verblydend dat die bouwerk om dié wal met 30 cm te verhoog nou begin het nadat dit twee jaar stilgestaan het, sê dr. Ivan Meyer, Wes-Kaapse minister van landbou.
Meyer sê die verhoging van die wal sal die vloei van water na die dam verhoog, meer water vir besproeiing beskikbaar stel en uiteindelik tot die ontwikkeling van 4 000 ha bykomende landbougrond lei. Die bouwerk sal 32 werksgeleenthede skep.
Die projek sal na verwagting teen Junie vanjaar voltooi word. Produsente sal volgens Meyer binnekort om waterlisensies kan aansoek doen.
CLANWILLIAMDAM
Nog ’n projek wat volgens hom ’n noemenswaardige impak op die landbousektor sal hê, is die verhoging van die Clanwilliamdam se wal. Dit sal die ontwikkeling van 6 000 ha bykomende landbougrond vir hoëwaardegewasse onder besproeiing moontlik maak.
Bouwerk aan hierdie projek het in 2014 begin, maar vorder teen ’n slakkegang. Bouwerk sal in Maart vanjaar hervat word.
Volgens Meyer werk Agri Wes-Kaap en die Breedevallei-munisipaliteit hard om die onderskeie projekte te steun.
“Die verhoging van die wal van die kanaal by die Brandvleidam en die verhoging van Clanwilliamdam se wal is goeie nuus vir die landbousektor. Dit takel nodige watertoekenning-hervorming, transformasie, werkskepping en maatskaplik-ekonomiese ontwikkeling.”