’n Stryery tussen ’n boer van Merweville en een van sy werkers het tragies geëindig toe die boer op sy eie stoep doodgeskiet is.
Mnr. Fritz Snyders (35) is gister (12 Desember 2011) deur een van sy werkers geskiet waar hy saam met sy vrou op sy huis se stoep gesit het. Volgens ’n verklaring van Agri Wes-Kaap was daar vroeër die dag ’n stryery tussen Snyders en dié werker, wat vermoedelik tot die voorval aanleiding gegee het.
Snyders se vrou kon daarin slaag om die werker om te praat om die wapen te oorhandig en homself aan die polisie oor te gee.Snyders is die tweede boer in die Wes-Kaap wat hierdie jaar vermoor is.
Verskeie voorvalle
Die voorval volg kort op die aanvalle op plase naby Malmesbury en Grabouw. Landbou.com het verlede week berig oud-brig. Piet Byleveld is ingeroep om die plaasaanval op mnr. Pieter Loubser en sy verloofde, me. Brenda van der Westhuizen, van Malmesbury te ondersoek.
Volgens Agri Wes-Kaap het die organisasie op 8 Desember 2011 met genl. Arno Lamoer, provinsiale kommissaris van polisie in die Wes-Kaap, oor landelike veiligheid in die provinsie vergader.
Verdere gesprekke oor die instelling van die Nasionale Landelike Veiligheidsplan is geskeduleer vir begin aanstaande jaar. Intussen gaan die sektor-polisiëringseenhede voort met die bestuur van landelike veiligheid in die verskillende streke, aldus Agri Wes-Kaap.
13 Desember 2011