
Die Universiteit van Stellenbosch se regshulpkliniek en 15 verbruikers, onder wie arm plaaswerkers van Stellenbosch, kom volgende week in die Kaapse Hooggeregshof teen roekelose geld-uitleners te staan.
Die grondwetlikheid van die proses om op lone beslag te lê, sal ook onder die vergrootglas kom.
Die wynplaaseienaar en sakevrou, me. Wendy Applebaum, die finansiële firma Summit en die regsfirma Webber Wentzel het ook hul gewig agter dié stryd gegooi.
“Ons hoop om te sien dat geregtelike toesig oor die proses van loonbeslagleggings geskied,” sê mnr. Kruger van der Walt, direkteur van die regshulpkliniek.
Me. Mathilda Rosslee, koördineerder van die Wendy Applebaum Finansiële Geletterdheid G-I-projek, sê invorderingsagente mislei ook dikwels arm en ongeletterde verbruikers om vorms, wat hulle dikwels nie kan lees of verstaan nie, te teken. Hulle word onder ’n wanindruk gebring dat hulle moet teken om te erken die agente was by hulle.
Van der Walt sê: “Die probleem is dat mense dikwels nie weet wat hulle teken nie, maar dan gee hulle toestemming tot vonnis in terme van die loonbeslagleggingsbevel en hulle stem in tot die jurisdiksie van ’n landdroshof."
Volgens wet hoef ’n landdros nie die loonbeslagleggingsbevel te bekragtig as ’n skuldenaar skriftelik ingestem het daartoe nie. Daar is ook nie ’n beperking op hoeveel geld afgetrek mag word nie. Die werkgewer word verplig om die bedrag van die persoon se salaris of loon af te trek. Tot 80% van sommige plaaswerkers se lone word hiervoor afgetrek.
Volgens mnr. Clark Gardner, hoof uitvoerende beampte van Summit, maak die afstand en koste dit bykans onmoontlik vir die verbruiker om dit teen te staan. “Hulle moet ’n prokureur aanstel en die bevel in die hof herroep. Dit sal dikwels meer kos as die skuldbedrag.”
Die respodente in die saak is die Minister van Justisie en Korrektiewe Dienste, die Minister van Handel en Nywerheid, die nasionale kredietreguleerder, Mavava Trading, Onecor, Amplisol, Triple Advanced Investments, Bridge Debt, Las Manos Investments, Polkadots Properties, Money Box Investments, Maravedi Credit Solutions, Icom, Villa des Roses, Money Box Investments, Triple Advanced Investments, Flemix en vennote en die vereniging vir skuldinvorderingsagente. Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie is as ’n vriend van die hof (amicus) bygevoeg.
Die saak kom van 16 tot 19 en op 23 Februarie voor.