
’n Vyfde verdagte is in hegtenis geneem in verband met die moord op mnr. Nico Steenkamp (59) van Northam in Limpopo.
Steenkamp se liggaam is op Dinsdag 6 September op sy plaas, Maroelafontein, gekry. Steenkamp het glo die vorige dag saam met een van sy werkers aan ’n pomp gewerk. Omstreeks 10:00 het hy die werker alleen by die pomp gelos. Hy is nooit weer lewend gesien nie.
Die hulp van die Heritage Protection Group (HPG), ’n provinsiale inisiatief van vrywilligers wat bystand verleen met misdaadondersoeke, is Dinsdagoggend ingeroep nadat Steenkamp se verlate voertuig in die omgewing gevind is. HPG-lede van Northam, Thabazimbi, Koedoeskop en Beestekraal is in die soektog na Steenkamp ontplooi nadat dit geblyk het dat daar goedere uit sy huis vermis word.
Die polisie is dadelik gekontak toe van sy werkers Steenkamp se liggaam gekry het waar sy moordenaars dit probeer versteek het. Hy was volgens die polisie nog vasgebind. Twee plaaswerkers is dadelik in verband met die moord in hegtenis geneem en later die dag nog twee.
Al die gesteelde goedere, waaronder juwele en ’n skootrekenaar, is teruggevind en verskeie bewysstukke is aan die polisie oorhandig. ’n Kluis was nog vermis, maar die polisie in Limpopo het op Donderdagoggend 8 September bevestig dat ’n vyfde verdagte in hegtenis geneem is en dat die kluis saam met nog juweliersware gevind is.
Die vyf verdagtes sal binnekort in die plaaslike landdroshof verskyn.