
Die Sondagsrivier Boerdery-trust (SRTF) het nog ’n mylpaal bereik toe hulle verlede week die eerste 28 hektaar suurlemoenbome op die plaas Siyaphambile by Addo in die Oos-Kaap geplant het. Die plaas is in 2012 gekoop en grens aan die Nomathamsanga-township. Die vorige eienaar het die grond gebruik om lusern te verbou en dit beslaan 117 hektaar met 102 hektaar waterregte.
Die verwagting is dat dié plaas oor ses jaar in volle produksie sal wees en dan sowat 6 500 ton vrugte op die 100 hektaar sal produseer en nagenoeg 300 000 kartonne sitrus per seisoen vir die uitvoermark sal lewer.
Siyaphambile is die vyfde plaas wat ingevolge die Sondagsrivier Sitrusmaatskappy (SRCC) se swart ekonomiese bemagtingsprogram wat in 2007 tot stand gekom het, aangekoop is. Ten tye van die stigting van die trust is die heeltydse werkers as begunstigdes geïdentifiseer waarvan daar tans nog 31 oor is. Die SRCC het intussen ’n primêre produksiedepartement in die lewe geroep om swart boere by te staan om hul eie grond te besit en met die nodige opleiding en steun tot die hoofstroom van sitrusboerdery toe te tree.
Gedurende die afgelope 3 jaar is sowat R3 miljoen aan die ontwikkeling van nuwe boorde bestee en is ’n bykomende 40 heeltydse en 318 seisoenale werksgeleenthede geskep. Mnr. Ken Niewenhuizen, die direkteur van transformasie en ontwikkeling van die SRCC, sê hoewel 24% van die boorde wat deur die swart boere besit word nog nie in produksie is nie, lewer hulle reeds sowat 1 miljoen kartonne vrugte per seisoen. “Sodra die nuwe aanplantings in volle produksie is, sal dit ’n betekenisvolle bydra lewer tot die hoeveelheid vrugte wat deur die SRCC verpak en bemark word. Die uiteindelike mikpunt is dat swart boere 30% van die SRCC se produksie sal lewer.” Die vreugde was aanvoelbaar toe die 31 werkers die eerste suurlemoenbome op hulle eie plaas, Siyaphambile, by Addo geplant het. Wanneer die plaas in volle produksie is, sal sowat 6 500 ton vrugte op die 100 hektaar geproduseer word, wat nagenoeg 300 000 kartonne uitvoervrugte sal oplewer. Foto: Theuns Botha