
Plaaswerkers in die Hexriviervallei weier dat buitestaanders hulle wéér intimideer om te staak, sê mnr. Wilfred Frolick, leier van die Hexriviervallei se plaaswerker-assosiasie (HPA).
Dit kom nadat mnr. Nosey Pieterse, leier van die vakbond Bawusa, inwoners van die gebied by Stofland, De Doorns op Sondag, 26 Oktober, oor 'n moontlike staking toegespreek het. Pieterse het gesê die “N1 sal toegemaak word” as eise nie nagekom word nie. “Alles wat die plaaswerkers nodig het, het boere van hulle weggevat. As die Regering boere nie kan dwing om die dienste, soos vervoer, terug te gee nie, dan moet hy dit self doen.”
Een van die hoofeise bly steeds 'n minimum loon van R150 per dag en dat dienste, soos die betaling van toelaes en binnelandse sake, na die plase gebring moet word.
Om teenstand te bied aan die “opswepery van Pieterse” en die plaaslike ANC, het die HPA, die Wes-Kaapse LUR van landbou en ekonomiese aangeleenthede, mnr. Alan Winde, samesprekings met werkers van 84 plase laat hou sodat hulle self hul bekommernisse met hom kon deel. Winde het ook met die produsente vergader.
“Die plaaswerkers kon vir hulself praat, nie Nosey of Cosatu se Tony Ehrenreich nie,” sê Frolick.
Frolick sê die werkers wil nie hê die goeie verhouding wat hulle met die werkgewers ná die vorige stakings opgebou het, moet vernietig word nie. “Ons het besluit om Nosey buite die vallei te hou. Sy opstokery sal nie geduld word nie. Ons wil voortgaan met ons werk.”
Frolick vertel dat met die eerste staking het die plaaswerkers in die vallei nie geweet wat hulle getref het nie. “Hulle was uit die huis en die werk gehaal om te staak. Maar hierdie keer is hulle gereed om hulself saam met die polisie te verdedig indien enigiets gebeur,” sê hy.
'n Versoek is aan die Wes-Kaapse regering gerig om 'n omsendbrief uit te stuur om die proses van sektorale vasstelling aan werkers te verduidelik. Die rede hiervoor is om te verhoed dat mense hulle kan laat glo dat dit boere is wat weier om meer te betaal.
* Min plaaswerkers het die "massavergadering" Sondag in De Doorns bygewoon. Pieterse het by tye gesukkel om die klein skare na hom te laat luister.