
’n Nasionale werkskomitee bestaande uit 15 belanghebbendes binne die landbou en landelike veiligheid is op die been gebring om toesig te hou oor landelike veiligheid, misdaadvoorkoming en die uitvoering van die landelike veiligheidstrategie.
Dié komitee was een van die uitvloeisels van die twee dae lange landelike veiligheidsberaad wat Maandag en Dinsdag deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens in die Vrystaat by Parys aangebied is. Die beraad is bygewoon deur onder meer landbou-organisasies, boere, tradisionele leiers, plaaswerker- en -bewoner-organisasies, asook aktiviste teen plaasmoorde. Daar is onder meer gekyk na die vordering met die toepassing van die landelike veiligheidstrategie wat in 2019 aanvaar is.
Die polisie het ná die beraad gesê deelnemers is in ses kommissies verdeel wat oplossings moes bespreek vir kwessies soos plaasaanvalle en -moorde, veediefstal, ongeregistreerde plaaswerkers, werkersregte, onwettige grondbesettings en onwettige uitsettings.
Die nasionale werkskomitee sal voortaan kwartaalliks ontmoet om vordering met hierdie kwessies te beoordeel sodat landelike veiligheid bevorder kan word.
Mnr. Bheki Cele, minister van polisie, het die komitee opdrag gegee om binne sewe dae ’n aksieplan te ontwikkel wat aan die kabinet voorgelê kan word.
“Laat ons almal saam ’n werksdokument ontwikkel wat ons in die vorm van ’n memorandum aan die kabinet kan voorlê,” het hy gesê. “Dit sal verseker dat alle staatsdepartemente en belanghebbendes sal meewerk om veiliger landelike en boerderygebiede te skep. Ons moet verseker dat ons ’n bevorderlike werksomgewing skep vir sowel bestaansboere as kommersiële boere om te sorg dat voedselveiligheid nie bedreig word nie. Oor ’n jaar van nou af moet oor vordering met die proses verslag gedoen word. Dit is ’n gesamentlike verantwoordelikheid.”
Genl. Fannie Masemola, nasionale polisiekommissaris, het gesê verhoudings en venootskappe tussen die polisie en ander belanghebbendes is van deurslaggewende belang om te verseker dat vinnig teen misdaad in landelike gebiede opgetree kan word in ooreenstemming met die landelike veiligheidstrategie.
“As polisiediens mik ons om doeltreffende kapasiteit en vermoëns in die landelike gebiede te bou, te verseker dat daar toegang tot die polisie se dienste is en om dienslewering aan landelike gemeenskappe te verbeter. Ons wil ook ons infrastruktuur en hulpbronne by polisiekantore in landelike gebiede verbeter, maar die belangrikste is om gemeenskapsbetrokkenheid en onderlinge samewerking te verseker.”