
’n Voortgesette afwaartse neiging in arbeidsyfers word vir die landbousektor verwag. Die Finansiële en Fiskale-kommissie (FFC), wat dié kwessie onder die aandag van die Parlement se portefeuljekomitee vir landbou, bosbou en visserye gebring het, meen dat die afname sal voortduur as daar nie aktiewe beleidsingryping kom wat verdere werksverliese in die sektor kan buffer nie.
Statistieke SA se arbeidsopname toon dat arbeid in die landbousektor in die eerste twee kwartale van 2016 teruggesak het, nadat die sektor baie sterk groei in 2015 getoon het. Die uitmergelende droogte is die grootste faktor wat dié afname veroorsaak het, sê die kommissie.
Die landbousektor het in 2015 sowat 5% tot die land se totale uitvoere bygedra. Visserye het ongeveer 0,1% tot die bruto binnelandseproduk bygedra en die bosbousektor het ’n handelsbalans van R25,6 miljard gehad.
Gevolge
Met die droogte wat die landboubedryf hard tref, het die land in sewe jaar ’n beduidende invoerder van grane geword. Na verwagting sal sowat 5 miljoen ton mielies en 2 miljoen ton koring tot April 2017 ingevoer word. Hierdie invoere vind plaas teen ’n agtergrond van ’n swak rand en stygende graanpryse, sê die kommissie.
Grane sal teen sowat R11,5 miljard ingevoer moet word en daar sal ook verdere druk wees om die ingevoerde produkte betyds en doeltreffend aan die mark te lewer, weens Transnet se beperkte infrastruktuur vir grootmaat landbouprodukte.
Die kommissie stel voor dat die departement moet vasstel of die geld wat hy vir droogtehulp aanwend, werklik voldoende is en ’n uitwerking het, anders sal die hulp reeds voorsien, nietig wees. Die landbou word gesien as die sektor waar die land werk in die kortste tyd kan skep om werkloosheid aft e dwing.
In 2014 het Suid-Afrika 32% van sy landbouprodukte na die Europese Unie uitgevoer, 31% na die res van Afrika, 20% na Asië en 3% na Amerika.