
Werksverliese in veral die gewas-, tuinboukunde-, vee- en wildbedryf het in die eerste kwartaal van vanjaar voorgekom, wys die jongste syfers van Statistieke SA se kwartaallikse arbeidsopname.
Werksverliese was hoofsaaklik aangepor deur die krisis wat die land se pluimveebedryf ondervind weens die invoer van goedkoop hoender uit die Europese Unie en die effek op die tuinboubedryf weens die impak van die onlangse droogte.
Die landbousektor het in die eerste kwartaal van 2017 altesaam 44 000 werksverliese beleef as in dieselfde tydperk verlede jaar. Dit bring die sektor se totale arbeidsmag op 875 000 te staan.
Die meeste werksverliese het in die Wes- en Noord-Kaap voortgekom waar die meeste arbeidsintensiewe gewasse steeds die gevolg van verlede jaar se droogtetoestand toon.
Droogte
Mnr. Wandile Sihlobo, hoof van ekonomiese en landbou-inligting by die landbousakekamer Agbiz, sê daar was oor die algemeen minimale aktiwiteite in die graan- en oliesaadsektor tussen Januarie tot Maart wat die afname in arbeid verduidelik, ten spyte van die rekordoes.
Die Wes-Kaap het gedurende dié tydperk ’n arbeidsafname van 14% beleef, die Noord-Kaap 10%, die Noordwes 9%, Kwazulu-Natal 3%, en die Oos-Kaap 2%.
Dit het heelwat beter in die Vrystaat, Limpopo en Mpumalanga gegaan waar die provinsies 'n toename in werksgeleenthede beleef het.
Hoewel die sektor se totale aandeel tot arbeid in die land van 1% na 5% in die eerste kwartaal geval het, in vergelyking met dieselfde tydperk, is sy arbeidsmag meer as die mynbousektor en steeds byna gelyk aan die vervoerbedryf.