
’n Jaarlikse lisensietarief van R12 000 tot R17 000 vir ’n selfaangedrewe spuit of stroper en tot R80 000 vir ’n geartikuleerde trekker is nie onmoontlik as die jongste voorgestelde wysigings aan die Padverkeerswet aanvaar word nie.
Dié voorgestelde wysigings hou verreikende gevolge in vir alle bedryfsektore wat groot voer- en werktuie gebruik om ’n winsgewende bestaan te maak. Volgens die voorgestelde wysigings sal voertuigeienaars onder meer in die toekoms jaarlikse lisensietariewe moet betaal wat gegrond is op die tarra-gewig van die geregistreerde voertuig.
Indien die huidige skedule in die voorgestelde wetswysigings gebruik gaan word, sal die koop van lisensies ’n reuse jaarlikse uitgawe word.
Voedselsekerheid beïnvloed
Mnr. Ockert Scheepers, produkbestuurder van New Holland SA, sê indien voedselsekerheid ’n voorrangsaak vir die Regering is, moet dié voorstelle dringend hersien word omdat geen boer toerusting vir grootskaalse voedselproduksie sal kan bekostig weens die duur lisensie nie.
Die sperdatum vir die indiening van kommentaar op die voorgestelde wysigings was vroeg in Julie, maar die SA Landboumasjinerie-assosiasie (Salma) het om uitstel gevra tot 15 Augustus. Dr. Jim Rankin, sekretaris van Salma, sê hul voorlegging sal voor 15 Augustus ingedien word.
Die mense wat regstreeks deur dié voorgestelde wysigings geraak sal word, is die eindgebruikers van die voer- en werktuie. Volgens Scheepers is dit nie net die landboubedryf wat daardeur geraak sal word nie, maar alle bedrywe wat abnormale voertuie, soos selfs mobiele hyskrane, gebruik.