
Die getal werkgeleenthede in die landbou blyk ná twee kwartale van afnames in 'n dalende fase te wees.
Dit is nie net politieke uitsprake en arbeidswetgewing wat hiertoe lei nie, maar tot groot mate ook boere wat hul winsgewendheid en mededingendheid wil verbeter, sê dr. Frikkie Liebenberg, senior dosent in die departement landbou-ekonomie, voorligting en landelike ontwikkeling aan die Universiteit van Pretoria.
Statistieke Suid-Afrika (SSA) se jongste syfers wys landbou het in die tweede kwartaal byna 10% minder werkgeleenthede as in die ooreenstemmende tydperk verlede jaar gehad.
Liebenberg sê hierdie syfer sluit die bosbou- en visseryesektore in en laasgenoemde het weens probleme met lisensies baie werkgeleenthede verloor. Die werkgeleenthede in spesifiek die landbousektor was van April tot Junie vanjaar sowat 5% minder as in die tweede kwartaal van verlede jaar.
Dit was die tweede opeenvolgende kwartaal met 'n afname op 'n jaargrondslag en Liebenberg sê 'n mens kan daaruit aflei die sektor is nou waarskynlik in 'n dalende fase. Hy verwag landbou gaan struktureel baie verander. “Veral in die akkerboubedrywe word na minimum- en bewaringspraktyke oorgeslaan, wat tot minder werkgeleenthede lei.”
Prof. Nick Vink, voorsitter van die departement landbou-ekonomie aan die Universiteit van Stellenbosch, sê die langtermynneiging in landbou is al vanaf die jare sewentig om minder mense in diens te neem. In die tweede deel van die 1990’s, toe uitvoer van wyn en vrugte gegroei het, het syfers wel konstant gebly. Produksie van vrugte en groente onder besproeiing, wat meer arbeid per hektaar gebruik, het ook toe uitgebrei.
Die afgelope sowat drie jaar het werkgeleenthede ook nie afgeneem nie, waarskynlik weens die verhoging in netto boerdery-inkomste en 'n relatiewe verskuiwing uit akkerbou (mielies en sojabone) na tuinbou.
Vink sê om meer werkgeleenthede te skep, moet die oppervlakte onder besproeiing uitgebrei word soos wat die nasionale ontwikkelingsbeplan bepleit.
Me. Elize van der Westhuizen, senior bestuurder van arbeidsverhouding by Agri SA, skryf die onlangse afname in werkgeleenthede beslis toe aan verlede jaar se verhoging van 52% in die minimum loon. Agri SA het toe gesê die invloed sou mettertyd gesien word. “Boere moes eers planne maak. 'n Klomp seisoenale werkers het nie weer werk gekry nie. Ons begin nou regtig die afname sien en ons kan nog meer hiervan sien. “Boere in arbeidsintensiewe bedrywe begin meer meganiseer en sommiges probeer uit hierdie bedrywe wegbeweeg.”
Agri SA hoor ook by boere dat hulle nie onnodige arbeid wil inneem nie. “Boere hou nie van die risiko's nie. Hulle is sensitief oor al strenger arbeidswetgewing en uitsprake oor werkers se moontlike regte op grond.”