
Die enorme verlies aan werk in die landbou moet Suid-Afrikaners na regte op hete kole hê, sê mnr. Mohammed Nalla, hoof van strategiese navorsing van Nedbank Capital.
Luidens ’n berig in Beeld het 39?000 minder mense in die tweede kwartaal in dié sektor gewerk (’n verlies van 5,5% poste) as in die eerste, en 73?000 (9,8%) minder as in die tweede kwartaal van 2013.
“Voedselsekerheid is noodsaaklik vir ons ekonomie en ons kan nie enorme werkverliese in die landbou bekostig nie,” sê hy en skryf dit deels toe aan onsekerheid oor beleid en probleme in die arbeidsmark, met baie boere wat óf begin meganiseer óf hul bedrywighede afskaal.
Dr. Roelof Botha, ekonomiese raadgewer van PwC, sê die verslegtende syfers kan vierkant voor die deur van vakbonde en arbeidswette gelê word. “Pres. Jacob Zuma het in sy staatsrede gesê werkskepping is die beste manier om armoede te verlig. Dis tyd dat die Regering herinner word aan sy belofte. Hy moet vakbonde vasvat.”
* Boere in Limpopo span kragte saam teen oopgroef-steenkoolmyne wat op dié gebied wil toesak. Mnr. Philé van Zyl, uitvoerende bestuurder van ZZ2, sê indien mynbou in die gebied toegelaat word, sal 12 000 werksgeleenthede in die gedrang kom.
Bron: Beeld