Druiweboere verwelkom die hitte wat tans in die Wes-Kaap voorkom, en kenners sê dit is baie goed vir onder meer kleurvorming.
Dr. Eben Archer, ’n wingerdboukundige en navorser by die Nietvoorbij-navorsingstasie en die Universiteit Stellenbosch, sê temperature van tussen 30 grade Celsius en 35 grade Celsius is goed vir die druiwe in die huidige groeistadium.
Archer sê oeste kan wel benadeel word as temperature van 40 grade Celsius of hoër vir langer as sewe dae aaneen voorkom. Mnr. Beyers Truter, voorsitter van die Pinotage-vereniging, sê druiwe word tans teen die hitte beskerm, want die meeste daarvan sit onder blare.
Van Landbouweekblad se Facebook-gebruikers het hierdie week tot 46 grade Celsius aangeteken. Mnr. Wynand Haasbroek sê die kwik het Maandag (16 Januarie 2012) in die Paarl op 46 grade Celsius gaan draai, terwyl me. Elna Dreyer van Malmesbury 45 grade Celsius aangeteken het.
Beplanning
Truter sê hoewel dié tyd van die jaar gewoonlik warm is in die Wes-Kaap, moet boere sorg dat hulle goed voorbereid is vir hittegolwe.
“Die regte wingerdpraktyke en bestuur van water is baie belangrik. Jy moet goed genoeg ingelig wees oor wat die weer kan doen, sodat jy jou wingerde kan besproei vóór die hitte toeslaan.”
Hy sê die blare maak wel toe op temperature van 36 grade Celsius en hoër. “Druiwe wat te warm kry, hou op om suiker te produseer, en begin inkrimp.”
Volgens Truter word ’n baie goeie oes dié seisoen verwag, hoewel die korrels wat tans aan die wingerde hang, klein is. Die eerste druiwe word in die tweede week van Februarie geoes. Die oestyd duur tot einde Maart.
17 Januarie 2012