
Geldelike ingrypings die afgelope vyf maande deur die Wes-Kaapse regering het voorkom dat miljoene se verliese aan plaasinkomste en poste weens die heersende droogtetoestande plaasgevind het.
Die provinsiale regering het R11 miljoen van sy eie fondse aan veevoer bestee om sowat 1 300 kommersiële- en kleinboere te hulp te snel. Dit beteken die provinsie het reeds droogteverliging van R59 miljoen oor die tydperk beskikbaar gestel.
Mnr. Des van Rooyen, Minister van Plaaslike Regering en Tradisionele Sake, het vroeër vandeesweek aangekondig dat die nasionale regering noodrampverligting van R74,8 miljoen aan die Wes-Kaap goedgekeur het. Altesaam R40 miljoen hiervan is vir veevoer bewillig en die oorblywende R34,8 miljoen is bestem vir droogteverligting in sekere munisipaliteite in die provinsie.
Mnr. Alan Winde, Wes-Kaapse minister van ekonomiese aangeleenthede, het aangedui dat die Wes-Kaapse regering ’n verdere R7,7 miljoen teen einde Augustus sal bestee om boere te help ondanks hierdie geldelike inspuiting van die nasionale regering, Dit sluit in R3 miljoen vir die verwydering van sand uit die 24 rivierkanaalstelsels wat na die Voëlvleidam lei.
Ekonomiese uitwerking
Analise van ekonome by die Wes-Kaapse departement van landbou het gevind dat ’n 10%-vermindering in opbrengste weens die droogte, die ekonomie tot sowat as R3,2 miljard kan kos en 17 000 poste in gedrang kan plaas.
Bykomende navorsing het ook gewys dat ’n 30%-verlies van water vir landbou-doeleindes in sommige van die hoof besproeiingsgebiede in die provinsie wat deur die Theewaterskloof- en Bergriverwaterstelsel bedien word, tot verliese van R309 miljoen aan plaasinkomste en werksverliese van sowat 1 700 werkers kan lei.
Winde het aangedui dat die provinsie die scenario’s kon afweer, maar dat inwoners van die provinsie steeds op hulle waterverbruik moet let. ’n Onlangse evaluering het aangedui dat die droogte ’n afname van 6% tot 7% in netto-plaasinkomste op nasionale vlak meegebring het.