
Nood-rampverliging van altesaam R74,8 miljoen van die nasionale Regering is uiteindelik aan die Wes-Kaap toegestaan.
Mnr. Des van Rooyen, die Minister van Plaaslike Regering en Tradisionele Sake, het by die Parlement aangedui dat R40 miljoen toegestaan is vir veevoer. Die orige R34,8 miljoen sal gebruik word vir droogteverligting in sekere munisipaliteite in die provinsie.
Die Stad Kaapstad wat erge waterprobleme ondervind, kry R20,8 miljoen, die Bitou-munisipaliteit waar verwoestende brande voorgekom het, kry R10,9 miljoen en die Theewaterskloof-munisipaliteit R3,1 miljoen.
'Sal besteding monitor'
Van Rooyen het gesê die nasionale sentrum vir rampbestuur en sy provinsiale eweknie sal die besteding van die geld monitor om te verseker dat dit reg bestee word.
Die geld vir die munisipaliteite is reeds 21 Augustus oorgedra en die vir veevoer sal 31 Augustus oorgedra word.
Van Rooyen het dit ook duidelik aan Landbouweekblad gemaak dat die Wes-Kaap die “enigste provinsie in die land” is waar ’n provinsiale droogteramp verklaar is. Landbouweekblad het met ’n opname van weidingstoestande reg oor die land gevind dat dit nie net die Wes-Kaap is wat erge droogtehulp benodig nie, maar ook die Oos-Kaap en die Noord-Kaap. In sekere gebiede in die Oos-Kaap vrek vee van die honger, terwyl beeste en skape maer is. Voer moet ten duurste aangekoop word en die water is besig om op te droog.
Situasie versleg in Noord-Kaap
In die Noord-Kaap is weidingstoestande aan die versleg en alle lammers/skaap wat bemark word, moet eers deur ’n voerkraal gaan voor dit reg is vir die verbruiker.
Mnr. James Brent-Styan, woordvoerder van die Wes-Kaapse departement van plaaslike regering, het gesê dat die provinsie enige geldelike hulp verwelkom, maar bygevoeg dat baie meer geld benodig word.