Die beste staatsdepartement in die land is die Wes-Kaapse departement van landbou.
Dié gesogte erkenning het hy van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Regeringsouditeure (SAIGA) gekry vir die weergee van sy jaarverslag.
Die departement het teen ál die ander provinsiale en nasionale departemente meegeding en is as die algehele wenner gekies. Hy het 96,55% vir sy verslaglewering gekry.
Die departement het ook die toekenning vir beste provinsiale departement verower. Mnr. Gerrit van Rensburg, Wes-Kaapse minister van landbou en landelike ontwikkeling, sê hy is baie trots op die departement. “Om erkenning te kry as die beste departement in die land is ’n besonderse eer.”
Hy sê dié prestasie wys op die harde werk wat die Wes-Kaapse regering en die departement doen. ’n Organisasie wat uitnemend is in sy verslaggewing en rekenkundige bedrywighede moet ook goed wees om dienste op voetsoolvlak te lewer, sê hy.
10 Oktober 2011