
Volgens kenners lê daar groot geleentheid vir avokado-uitbreiding in die Wes-Kaap en voornemende beleggers begin reeds skarrel om van hierdie geleentheid gebruik te maak.
Teen die einde Julie vanjaar het nagenoeg 20 voornemende avokadoboere na Allesbeste Boerdery opgetrek om inligting oor die bedryf en jongboompies te bekom en ’n verhouding met die Afropro-uitvoermaatskappy te verseker, juis om van hierdie geleentheid gebruik te maak.
Volgens dr. Andre Ernst, die uitvoerende hoof van die Allesbeste-familiebesigheid, was dit ’n baie suksesvolle byeenkoms. “George in die Wes-Kaap is na ons mening die belangrikste groeipunt in die Wes-Kaap vir avo’s. Ons is opgewonde oor die moontlike uitbreiding, want die tydgleuf waarin boere in George produk kan lewer, is later as hier in die noorde, wanneer die vraag na gehalte produk in beide die plaaslike en uitvoermark die voorsiening oorskry. Die prys in hierdie tydgleuf, van September tot Desember, sal dus baie gunstig wees,” verduidelik Ernst.
Geleenthede wink
Die Moolman-familie, onder meer die eienaars van die Caxton-mediamaatskappy, wat hierdie inligtingsessie gereël het, wat ook reeds 25 ha avokado’s in die George omgewing besit, wil oor die volgende vyf jaar ’n verdere 75 ha vestig. Die bestuurder van die familie Moolman se avokadoprojek, dr. Guy Witney, meen die geleenthede van avokadopere in die Wes-Kaap is groter as wat besef word.
“Aanvanklik was verwag dat die produksie per hektaar in hierdie streek dieselfde sal wees as in die noorde van die land – ongeveer 10 tot 12 ton per hektaar. Ons mik egter vir 17 ton/ha, want dit is duidelik dat hierdie produksie en selfs soveel as 22ton/ha, moontlik is. En omdat ons aan die einde van die noorde se seisoen kan produseer, sal ons tot ’n 30%-premie op produkte van goeie gehalte kan verdien,” verduidelik Witney.