
Regeringsdepartemente moet ophou voete sleep en dringend die Wes-Kaap se vermoë om water te stoor, vergroot, het mnr. Marinus van der Merwe, ’n vrugteboer by Vyeboom en lid van Agri Wes-Kaap se hulpbronkomitee, gesê.
In die lig van voorspellings vir warmer en droër weer behoort die Wes-Kaap genoeg stoorkapasiteit te hê om 'winterwater' vir ten minste twee jaar op te vang. Anders moet boere hoop op "goddelike ingryping" van groot reën en vinnige vloedwaters en saamleef met die skade wat daarmee kan saamgaan.
"Dis amper die einde van die winter. Dit gaan twee jaar van normale reën verg om damme te vul."
Sleutelrol in ekonomie
Hy sê landbou in die Wes-Kaap dra jaarliks R18,6 miljard by tot die ekonomie en maak meer as 20% uit van die totale bydrae wat die landbou tot Suid-Afrika se bruto binnelandse produk maak.
Van der Merwe het by Hortgro se besproeiingseminaar buite Franschhoek gesê landbou word geblameer vir die waterkrisis, terwyl die Kaapse stedelike gebied se vraag na water vir menslike gebruik drasties toeneem.
Boonop het die tuinboubedryf die uitdaging aanvaar om water te bewaar en te bestuur deur in tegnologie te belê en aan die provinsie se "smart agri"-inisiatief deel te neem om die oorlewingsvermoë van die bedryf te verbeter.