
Die Wes-Kaapse departement van landbou, bosbou en visserye het ’n omvattende jaarverslag bekend gestel oor die verpligte diensjaar vir veeartse wat verlede jaar ingestel is. Dit is die eerste provinsie (en sover die enigste) wat só ’n verslag saamgestel het.
Verlede jaar was die eerste jaar waartydens gegradueerde veeartse ingevolge die Departement van Landbou se program verpligte gemeenskapsdiens moes verrig. Vanjaar is altesame 125 veeartse aan provinsies gesekondeer om broodnodige dienste te lewer. Volgens die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) is dit ’n eiesoortige program in die veeartsenyveld en verskeie lande stel belang om dit na te volg.
Wydverspreid en besig
Altesame 19 veeartse is verlede jaar na die Wes-Kaap gestuur met die doel om hul verpligte gemeenskapsdiens te verrig. Luidens die provinsiale departement se verslag het ses veeartse by die afdeling openbare veterinêre gesondheid gewerk, vyf by uitvoerabattoirs en een by die sentrale kantoor. Drie veeartse het by dieregesondheid gewerk, een by die Bolandse staatsveearts-kantoor en twee op Beaufort-Wes het hoofsaaklike primêre dieresorg verrig.
Twee veeartse het met uitvoerbeheer gehelp en uitvoersertifikate uitgereik, data bestuur en oudits vir uitvoergoedkeuring van voedselvervaardigers behartig. Een veearts het op Stellenbosch in die veterinêre laboratorium gewerk en hoofsaaklik nadoodse ondersoeke gedoen en verslae geskryf.
Die RPO het die departement gelukgewens met sy inisiatief en dit geloof as ’n voorbeeld van hoe die gegradueerde veeartse se dienste aangewend kan word. Die RPO sal graag wil sien dat die ander provinsies die Wes-Kaap se voorbeeld volg.
Hierdie berig is deur die RPO geskryf en verskaf. Rig navrae aan die RPO by tel. 012349 1102. E-pos: rpo@lantic.net. Webwerf: www.rpo.co.za.