
Die Wes-Kaap het reeds alles wat dit verg om ’n florerende wildbedryf tot stand te bring, kan leer by die res van die bedryf en hoef nie meer skoolgeld te betaal nie.
Mnr. Wiaan van der Linde, voorsitter van Wildbedryf SA en mede-eienaar van verskeie wildondernemings, sê die goeie infrastruktuur, kultuur, omgewingsgesinde denkwyse en gesonde leefstyl tel in die guns van die provinsie.
“Die Wes-Kaap sit op iets groots, dit moet net ontgin word. Hier is genoeg mense en toeriste. Van die grootste rolspelers in die bedryf bly ook reeds hier, soos dr. Johann Rupert en mnr. Christo Wiese. Dis mense wat die bewarings- en beleggingsvoordeel van die wildbedryf raakgesien het.”
Van der Linde was een van die sprekers by Landbouweekblad se Oplossings vir die Landbou-konferensie by Agri-Expo Livestock by Sandringham buite Stellenbosch.
Van die suksesse van die wildbedryf in Suid-Afrika is dat 20 miljoen ha marginale grond, dikwels beskadigde landbougrond, omgeskakel is in volhoubare gebruik van die grond. Die beleggingswaarde hiervan is R200 miljard en die infrastruktuur en toerusting se waarde word op ’n verdere R200 miljard beraam. Volgens syfers wat vier jaar oud is, rugsteun die bedryf 140 000 volhoubare werksgeleenthede. “Die wildbedryf gee meer werkgeleenthede as die hele mynbedryf.”
Die bedryf het ’n groot belegging in Suid-Afrika gedoen en het homself al bewys. “Die borrel is so groot, hy kan nie meer bars nie.” Van der Linde het bygevoeg die bedryf is nie ’n klein potjie wat deur dieselfde mense geroer word nie. “Daar is baie nuwe toetreders. Met die afplatting van die ekonomie het die wildbedryf gevolg en meer bekostigbaar geraak. Nou is die pryse weer besig om ’n opwaartse kurwe te volg.”
Hy het die uitdagings in die Wes-Kaap uitgewys, onder meer die toepassing van wetgewing van CapeNature, dat die provinsie stadig is om te reageer op nuwe markte en ’n houding teen die volhoubare benutting van wild.
“Hulle wil hê jy moet net toerisme toepas. Suiwer toerisme is egter nie beste gebruik van grond nie en jy kan dit nie ekonomies haalbaar maak nie. As jy nie van oortollige diere kan ontslae raak en omskakel in ’n winsgewende produk nie, gaan dit nie sin maak om met wild te boer nie.
“Voornemende wildboere moet egter met CapeNature gaan sit en kyk hoe kommersiële boerdery en biodiversiteitsbestuur bymekaar kan kom. Jy moet mekaar se denke kan akkommodeer.”