Sowat 26 000 nuwe werksgeleenthede in die landbou is in die vierde kwartaal van 2011 geskep, sê mnr. Dawie Maree, ekonoom van Agri SA.
Maree skryf in Mei se uitgawe van Agri SA se e-nuusbrief dat te midde van die toename in werkloosheid in Suid-Afrika én stygende insetkoste, kon die landbou vir ‘n derde kwartaal agtereenvolgens werk skep. Dié is volgens Statistieke SA se syfers, sê Maree.
Die ontleding van die syfers per provinsie dui daarop dat die groei ongelukkig nie al die provinsies plaasgevind het nie. Die provinsies wat werk geskep het sedert die laaste kwartaal van 2011, was die Wes-Kaap (33000), Vrystaat (10000), Noordwes (8000) en Mpumalanga (8000). Ongelukkig het werksgeleenthede verlore gegaan in die Oos-Kaap (17000), Noord-Kaap (8000), KwaZulu-Natal (4000), Gauteng (2000) en Limpopo (2000).
Bron: Agri SA se e-nuusbrief
14 Mei 2012