Twee Wes-Kaapse departemente het daadwerklik tot die stryd teen probleemdiere toegetree.
Hulle het in Januarie begin om 200 000 ha Karoogrond tussen Beaufort-Wes en Aberdeen oor ’n afstand van meer as 150 km te omhein. Die sluit 52 plase in waarop 25 boere en 11 boeregroepe boer. Altesame 120 km nuwe draad gaan gespan word, terwyl 80 km verbeter gaan word.
Die projek is die inisiatief van me. Joyene Isaacs, hoof van die departement van landbou in die Wes-Kaap. Dit word saam met die departement van openbare werke en paaie uitgevoer.
Volgens mnr. Francis Steyn, adjunkdirekteur van die Landcare- program in die Wes-Kaap, gaan die projek die departement openbare werke en paaie vanjaar sowat R7 miljoen kos en die departement van landbou R1 miljoen.
Uitbreiding beplan
’n Verdere R1 miljoen sal volgende jaar bestee word. Hulle hoop om die projek in die toekoms ook na die Koup (Merweville) uit te brei. Die departement openbare werke en paaie het ’n oop tender gevolg.
Die departement van landbou het besluit om boere te gebruik om die draad te span. Mnr. Marius Matthee, voorsitter van die landbouvereniging Rietbron, sê hulle verwelkom die projek, maar weet nie hoe doeltreffend dit teen probleemdiere gaan wees nie.
Volgens hom voer hulle omtrent ’n oorlewingstryd teen jakkalse en rooikatte. “ ’n Goeie draad is ’n bate. Die meeste van die drade hier rond is rondom 1930 al gespan. Boere het net nie meer geld om nuwe drade te span nie.”
14 Februarie 2012