
Die wenners van die Wes-Kaapse Prestige-landboupryse vir landbouwerkers is op 5 November op die Nederburg-wynlandgoed, Paarl, bekend gemaak.
Die kompetisie is die enigste in sy soort in Suid-Afrika en vereer werknemers in verskillende kategorieë en landboustreke in die provinsie. Dié glansryke geleentheid se topprys, Landbouwerker van die Jaar, is deur mnr. Anton Alexander gewen.
Hy is die menslike hulpbronnebestuurder van die plaas Ouwerf (Crookes Brothers) in die streek Elgin, Grabouw, Vyeboom en Villiersdorp. Alle wenners van dié kompetisie word lid van die Prestige- landbouwerkerforum.
Anton werk al 20 jaar vir Crookes Brothers en het destyds as ’n algemene werker begin en later as ’n trekkerbestuurder en opsigter gewerk. “Vir my is dit meer as net ’n werk in die landbou. Dit is ’n leefwyse,” sê Anton.
Hy hoop dié prys sal ook ander mense wat in die landbousektor werk, aanspoor. “As ons trots is op wie ons is, sál dit na die volgende geslag oorspoel.” Mnr. Alan Winde, Wes-Kaapse minister van ekonomiese geleenthede (verantwoordelik vir toerisme, ekonomiese ontwikkeling en landbou), het die voorbeeld wat Anton stel, geprys.
“Hy lewer ’n enorme bydrae tot die plaas waar hy werk en moedig jong mense aan om by die landbousektor in te skakel. Anton is ’n toegewyde werknemer, maar het ook nuwe vaardighede aangeleer. Hy het daardeur goed in sy loopbaan gevorder. Ek is seker sy sukses sal ook ander mense aanspoor.”
Die hoofborg van die kompetisie is Shoprite en die ander borge is die Distell-stigting, VB Agri en Agri-Expo.