
Planne word uitgevoer om te verseker dat die Wes-Kaap nie hierdie somer met ’n erge waterkrisis sit nie, het mnr. Anton Bredell, die Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, aangedui.
Die provinsie se damvlakke is steeds aan die daal, met gemiddelde damvlakke wat verlede week op 55% gemeet is. Daar word nie goeie reënval in die komende paar maande verwag nie. Damme was die vorige week bykans 57% vol en dieselfde tyd verlede jaar was die damme 64% vol.
Die provinsie het in Desember 2015 ’n droogtetaakspan saamgestel om te verseker dat ’n krisis vanjaar afgeweer kan word. “Weerpatrone wys dat dit in die toekoms eerder droër as natter gaan word. Met ’n verwagte sowat twee miljoen mense wat teen 2035 na die Wes-Kaap sal trek, sal die waterbehoeftes groter word en daarom sal ons die gehalte en die beskikbaarheid van die hulpbron moet beskerm.”
Hoewel die Wes-Kaap nie tot ’n rampdroogtegebied verklaar is nie, is vyf munisipale gebiede tot plaaslike rampgebiede verklaar. Hulle is die Sentrale Karoo- en Weskusdistrik, die Witzenberg-, Prince Albert- en Oudshoorn-munisipale gebied. Witzenberg het egter aangedui dat hy moontlik sy droogteverklaring kan beeïndig.
Die Sentrale Karoo en die Weskusdistrik ondergaan landboudroogtes, terwyl die res hidrologiese droogtes ervaar. Die dorpe in die Sentrale Karoo is gedeeltelik of heeltemal van boorgatwater afhanklik. Bredell sê waterbeperkings, wat verbind is aan verhoogde tariewe, geld en bewusmakingsprogramme is in plek gesit om water te probeer spaar.
Hoewel alle plase in die streek gedurende die winter reën gekry het, was dit nie genoeg om die damme vol te maak en vir plante om voldoende te groei nie. By alle munipaliteite in die Weskusdistrik is 20%-waterbeperkings ingestel. By die Drankensteinmunisipaliteit in die Kaapse wynlandgebied is vlak twee-waterbeperkings ingestel en vir die Stellenboschmunisipaliteit geld 20%-waterbeperkings.
’n Vlak twee-waterbeperking beteken dat tuine nie tussen sesuur die oggend en sesuur die aand natgemaak mag word nie en swembaddens mag nie gevul word nie. Tuinslange mag ook nie gebruik word om motors te was nie. Die Theewaterskloofmunisipaliteit in die Overbergdistrik het 20%-waterbeperkings vir huishoudelike en landbougebruik ingestel.
Rampgebiede
Altesaam R42 miljoen fnansiële ondersteuning is deur die provinsiale en nasionale departemente van landbou bewillig as droogtehulp in die Sentrale Karoo en Weskusgebied. Mnr. Colin Deiner, hoof van rampbestuur in die Wes-Kaap, het aangedui dat vir ’n verdere R27 miljoen van die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming verwag word om as droogtehulp aan te wend.
Die plaaslike munisipaliteite Witzenberg, Prince Albert en Oudshoorn het altesaam reeds R6,2 miljoen gekry vir die sink en toerus van boorgate. Die Wes-Kaapse tesourie het ook R6 miljoen aan dié munisipaliteite oorgedra.
Deiner sê ’n verdere R8 miljoen wat hulle van die Nasionale Departement van Water en Sanitasie versoek het en reeds goedgekeur is vir die sink en toerus van meer boorgate, is nog nie ontvang nie.