
Nadat soortgelyke ooreenkomste met die Amerikaanse deelstaat Georgia, asook voorheen met Florida ontwikkel is, gaan die Wes-Kaapse provinsiale kabinet ’n memorandum van verstandhouding tussen die Wes-Kaapse departement van landbou en Kalifornië ontwikkel.
Luidens ’n verklaring is die Wes-Kaap en Georgia albei lede van die Regional Leaders’ Forum, ’n multilaterale groep van sewe gebiede wat bestaan uit ontwikkelde en ontwikkelende lande.
Dr. Ivan Meyer, Wes-Kaapse minister van landbou, sê die Wes-Kaap en Kalifornië het nie net ’n Mediterreense klimaat gemeen nie, maar ook soortgelyke gewasse en produksiestelsels. Albei is bekend om hul wyn en wyntoerisme.
“Dit beteken egter ook dat albei gebiede geneig is tot soortgelyke rampe, soos droogte, vloede en veldbrande. As gevolg daarvan kan opwindende sinergieë ontwikkel word vir die bestuur van die impak van klimaatsverandering. Daarom is besluit om ’n formele memorandum van verstandhouding so gou moontlik te ontwikkel.”
Meyer en mnr. Alan Winde, Wes-Kaapse premier, het op Vrydag 28 Januarie ontmoet met mnr. Will Stevens, waarnemende Amerikaanse konsul-generaal, en sy span om belangrike projekte, provinsiale prioriteite en moontlik geleenthede vir samewerking te bespreek.
Van die punte op die agenda was handel- en beleggingsgeleenthede gekoppel aan onder meer die landbou, tegnologie, groen ekonomie, toerisme, gesondheidsorg en bilaterale ooreenkomste tussen die Wes-Kaap en subnasionale entiteite in Amerika.
Winde sê die Wes-Kaap het nog altyd ’n goeie werksverhouding met die konsul-generaal in Kaapstad gehad en dat verdere geleenthede om met mekaar te skakel tans oorweeg word. “Ek is bly dat ons ons verhoudings met ons Amerikaanse eweknieë aanhoudend kan versterk, veral deur ons Amerikaanse konsul-generaal in Kaapstad. Ek sien uit daarna om hierdie verhoudings verder uit te bou tot voordeel van almal wat ons dien.”