
Hoewel seisoenale voorspellings daarop dui dat die Wes-Kaap die komende winter beter reënval sal ervaar, is die benadering tot dié voorspellings egter versigtig optimisties.
Dít kom nadat weerkundiges nie klinkklare weervoorspelling vir die provinsie kon kry met die modelle wat hulle gebruik om voorspelling te bepaal nie. Intussen het me. Helen Zille, premier van die Wes-Kaap, ’n amptelike versoek ingedien om die Groter Kaapstad-gebied as rampgebied te laat verklaar. Sy het hierdie aankondiging by ’n waterindaba in Rawsonville gemaak.
Dr. Joel Botai van die Suid-Afrikaanse Weerdiens, het gesê dit is moontlik dat sommige dele van die reënvalstreek in die provinsie dalk die nodige bonormale reënval gedurende die vroeë winter, wat van Mei tot Junie strek, sal kry.
“Maar daar is steeds groot onsekerheid en daar is baie min vertroue wat met hierdie uitkyk geassosieer word siende dat die vaardigheidsvlakke vir die winterreënvalvoorspelling regoor die land baie laag is.”
Boonop is temperatuurvoorspellings ook strydig met van die bestaande stelsels wat vir weervoorspelling gebruik word. Die meeste van dié voorspellings wys dat warmer toestande in die suidweste van die provinsie sal heers, wat strydig met die weerdiens se voorspelling is.
Droogte en waterkrisis
Die landbou is die grootste bydraer tot die provinsie die bruto binnelandse produk, met kommersiële landbou wat 21% tot die land se landbouproduksie bydra en uitvoere wat sowat 45% beloop. Verlede winter is 200 00 ton koring verloor weens die droogte en ongeveer 2 000 seisoenale werke het verlore gegaan.
Botai het uitgewys dat die provinsie na verwagting baie droër sal wees teen die 2030’s tot 2040’s. Dit is dus van uiterste belang dat versagtende maatreëls voortdurend toegepas moet word by sektore wat sensitief vir droogte is.
Mnr. Darryl Jacobs, direkteur-generaal vir die landbou in die provinsie, het gesê die waterkrisis het ’n groot impak op die landbou. Waterbeperkings van 30% is al sedert 1 Maart 2017 geïmplementeer. Jacobs is van mening dat bewaringslandbou en slim landboupraktyke boere deur die krisis sal help. Die provinsiale departement van landbou het meer as R80 miljoen se droogtegeld verseker.
“Maar ons het aktiewe en betekenisvolle vennootskappe nodig om die maatskaplike en ekonomiese impak van die krisis af te weer.”