
Volgens mnr. Gys Olivier, voorsitter van Agri Hertzogville, is die siekte pas hier aangemeld.
“Die Vrystaatse direkteur van veeartsenydienste, dr. Kristan Mojapelo, het my nou net gebel. Ons moet alle veilings op Hertzogville afstel en die verskuiwing van alle vee tot verdere kennisname staak.”
Die uitbreking is ook in ’n verklaring deur die Vrystaatse departement van landbou en landelike ontwikkeling bevestig. “Die jongste uitbreking is onder ons aandag gebring ná ’n onsuksesvolle poging deur ’n boer van Hertzogville wat aan ’n veiling in Christiana in Noordwes wou deelneem.
Dáár is agtergekom dat die diere die tipiese seerplekke van die siekte het, en die diere is dadelik na die plaas van oorsprong teruggestuur,” lui die verklaring. Die plaas is onder kwarantyn geplaas.
Olivier sê daar is nog nie sekerheid oor hoe die uitbreking op die plaas ontstaan het nie.
’n Radius van 5 km om die plaas word tans ondersoek om die omvang en oorsaak van die virus vas te stel. Die plase in dié radius is ook onder kwarantyn geplaas.
Hy sê die afstel van die veilings tref boere en ander belanghebbendes in die plaaslike afslaersbedryf baie sleg. Verlede maand is Vleissentraal se maandveiling op Hertzogville afgestel weens die landwye vervoerverbod en boere het daarna uitgesien om dié maand wel diere te bemark. “Ons kontantvloei is onder druk, want ons maak taamlik staat op daardie September-veiling. Boonop is die pryse nou redelik goed, maar ons kan nie bemark nie.”
Voer- en weidingprobleme
Nóg ’n knelpunt is dat die lande waar beeste op oesreste gewei het, nou kaalgevreet is. Daarna skuif die boere hul diere na die veld. “Net die liewe Here gee vir ’n bees kos. Jy kan hom nie onbepaald voer nie. Nou mag ons nie skuif nie. Dit is ’n bitter pil om te sluk.”
Die dekseisoen vir baie boere begin ook in September en Oktober, maar bulle of ramme mag nie geskuif word nie. “Jy kan ’n uitsondering maak, maar dit is tydsaam om permitte daarvoor in die hande te kry. Die staatsveearts is voltyds besig om diere in te ent. Ons is omtrent 260 boerdery-eenhede hier in die Agri Hertzogville-gebied. Jy kan dus net net dink vir hoeveel bulle en ramme toestemming verkry moet word as jy diere wil skuif.”
Die voorgenome Malherbe & Roberts-veiling op 28 September op Hertzogville is nou ook in die weegskaal, sê Olivier. “Dit is een van die grootste produksieveilings van Angus- en Brangusbulle in die sentrale deel van die land . . . Net vandag het ons ál die biosekerheidsmaatreëls by die veilingskraal gedoen. Dit kos ons sowat R150 000. Hoewel dit steeds vir alle toekomstige veilings gereed sal wees, is dit ’n groot uitgawe wat nie dadelik verhaal kan word nie.”