
Die Mededingingskommissie ondersoek een van Suid-Afrika se grootste aartappelkwekers oor een van die land se gewildste aartappelkultivars. Die kommissie sê in ’n verklaring die moerkweker Wesgrow se ooreenkoms met HZPC, die Nederlandse maatskappy wat die Mondial-kultivar besit, maak dit onmoontlik vir ander moerkwekers om dié kultivar in die hande te kry.
Mondial maak tot 50% van Suid-Afrika se aartappeloes uit en word eksklusief deur Wesgrow versprei. Mondial is sedert 1993 onder planttelersregte geregistreer en Wesgrow het die lisensie gehad om die kultivar in Suid-Afrika te vermeerder en te verkoop.
In 2013 het die regte verval en Mondial het ’n “oop” kultivar geword, wat beteken enige kweker kan die aartappel vermeerder sonder tantième. In Europa is dié planttelersregte egter geldig vir 25 jaar, en HZPC verwag dus tantième van Wesgrow, met wie hy steeds kragtens EU-regulasies ’n eksklusiewe ooreenkoms het.
Volgens mnr. Sipho Ngwema, woordvoerder by die Mededingingskommissie, is die eksklusiewe ooreenkoms wat HZPC aan Wesgrow toestaan, strydig met seksie 5(1) van die Wet op Mededinging (Wet 89 van 1998). Hierdie seksie skryf geen straf of boete voor nie. HZPC sal daarom ’n waarskuwing daaroor ontvang.
Onmededingend
Ngwema sê Wesgrow se hantering van die kultivar is in wese onmededingend. “Wesgrow verhoed sy kliënte kontraktueel om moere te kweek, dwing hulle om alleenlik Mondial-tafelaartappels te verbou en keer verder dat geen boer Mondial aan ’n moerkweker mag verkoop nie.
“Die kommissie meen dat hierdie beperkinge ’n uitbuiting van sy magsposisie in die bedryf is. “Dié reëling is strydig is met seksie 8(d)ii van die Wet op Mededinging, wat ’n (boete van 10% van jaarlikse omset) as straf voorskryf, of seksie 8(c), wat geen straf voorskryf nie,” sê Ngwema.
Mnr. Gerhard Posthumus, uitvoerende hoof van Wesgrow, sê die maatskappy sal hom teen dié klagtes verdedig. “Ons het al in 2007 begin waarsku oor die feit dat planttelersregte slegs vir 20 jaar in Suid-Afrika geldig is, terwyl dit 25 jaar lank geldig is in Europa. Ons moet die tantième – wat HZPC van ons vra omdat die kultivar steeds onder planttelersregte in Europa is – iewers verdien. Dis onsinnig om te verwag dat Wesgrow plantmateriaal van Mondial aan almal in Suid-Afrika beskikbaar moet stel.”
Regruk
Volgens mnr. Jackie Millet, ’n moerkweker van Lydenburg, het hy al sedert 2013, toe Mondial ’n oop kultivar geword het, geprobeer om Mondial-plantmateriaal uit Europa en selfs Australië en Indië te kry.
Hy is egter elke keer na HZPC se hoofkantoor verwys, wat hom aangeraai het om dit deur Wesgrow te bekom. Mnr. Chris Drew van Super Spuds naby Underberg kon Mondial-moere in die hande kry wat nie onderhewig was aan Wesgrow se beperkinge nie en het sy eie kloon op die plaas vermeerder.
Hy kan dus nou Mondial op sy plaas kweek en aan kommersiële boere versprei. “Myns insiens het Wesgrow ’n geleentheid in die mark gesien en dit aangegryp, en dit is moeilik om te sien hoe die kommissie hom skuldig sal bevind.”
’n Ander moerkweker, wat anoniem wil bly, meen dit is hoog tyd dat die bedryf reggeruk word en dat reëls toegepas word. “Daar is talle kultivars wat volgende op die lys is en wat ongetwyfeld dieselfde pad gaan loop – Sifra, Fiana en Valor, om maar net ’n paar te noem.”