Die wetsontwerp wat voorstel dat die Weerdiens die sentrale punt vir voorspellings moet wees, is “ ’n opregte poging” om te verseker alle Suid-Afrikaners word teen valse voorspellings beskerm, sê die Departement van Omgewingsake.
Luidens ’n verklaring het die departement en me. Edna Molewa, Minister van Waterwese en Omgewingsake, kennis geneem van die kritiek oor die wetsontwerp.
Die wetsontwerp stel glo voor dat iemand wat ’n waarskuwing sonder die skriftelike goedkeuring van die Weerdiens uitreik, ’n boete van tot R10 miljoen of tronkstraf van 10 jaar opgelê kan word.
Volgens die departement is dit belangrik dat wetgewing in dié verband bekragtig word, aangesien dit in die verlede al gebeur het dat die chaos weens ’n valse waarskuwing tot openbare paniek, beserings en onnodige uitgawes gelei het.
11 jaar
Die staat sê sedert die Weerdiens 11 jaar gelede tot stand gekom het, is dit die enigste amptelike verskaffer van waarskuwings oor weergebeure in Suid-Afrika. “Dit is tans egter net die voorstel om dié 11 jaar oue bepaling te wettig wat tot kommer lei,” lui die verklaring.
“Met ander woorde, hoewel dit in werklikheid onwettig is vir enigiemand om waarskuwings oor erge weerstoestande sedert 2001 uit te reik, is dit slegs nou dat daar moontlike strafregtelike gevolge vir onwettige waarskuwings kan wees, dat daar kommer uitgespreek word,” merk die departement op.
Verder meen die departement dat met die gevolge van klimaatsverandering op die land is dit nodig dat een betroubare bron mense oor weerstoestande en moontlike gevare inlig.
Vanweë die kritiek op die wetsontwerp meen die departement die parlement gaan die wetsontwerp moontlik na die departement terugverwys, wat dan die nodige veranderinge moet aanbring.
Die departement vra die publiek derhalwe om nie die wetsontwerp te kritiseer nie, maar om aan die openbare kommentaarproses deel te neem en alternatiewe bewoording voor te stel sodat so ’n wet wel korrek toegepas sal kan word.
13 Januarie 2012