Afrika-regerings se omgewingswetgewing en -beleid bevorder nie volhoubare natuurlewe-produksie nie.
Dit behels meestal eerder regulasies wat ingestel word sodra ’n probleem opduik, en dan geneig is om die bedryf te oorreguleer. Dít is die bevinding van ’n omvattende ondersoek deur die omgewingskonsultant-firma Uthlanga.
Me. Sayuri Moodliar, ’n omgewingsregkenner en direkteur van Uthlanga, het dit op die Internasionale Natuurlewesimposium in Kimberley bespreek. In die ondersoek is omgewingswetgewing en -beleid die wêreld oor nagegaan om vas te stel hoe dit gebruik word om nie net natuurlewe te bewaar nie, maar ook te bevorder.
Wetgewing is uit pas
Moodliar het gesê dit was skokkend om te sien hoe Afrika-regerings se wetgewing en beleid uit pas is met die groeiende internasionale neiging om die volhoubare produksie van natuurlewe (insluitend wild) te bevorder en te ondersteun.
Dít kom in die plek van die ouderwetse benadering dat wetgewing net as regulering gebruik word om die bestaande natuurlewe en hul habitat te bewaar. Daar is internasionaal ook ’n groeiende neiging dat belanghebbendes by die bewaring van natuurlewe, wat die eienaars van wildplase insluit, ’n al hoe groter sê in die opstel van omgewingswetgewing en -beleid kry.
Daarby word bewegings soos dié wat teen jag is, se stemme ook al hoe sterker gehoor. Dit sluit radikale organisasies in, soos Amerika se Humane Society en die Animal Liberation Front. Hierdie organisasies het groot gunswerwing-mag, in hul eie regerings en in dié van die Afrikalande waar gejag word.
Jagtrofeë onder skoot
In Europa en Brittanje oefen hulle byvoorbeeld groot druk op hul regerings uit om die invoer van jagtrofeë te verbied. Die Uthlanga-ondersoek het gewys dat die Afrika-regerings se verouderde benadering tot omgewingswetgewing en -beleid gewoonlik aan drie hoofredes toegeskryf kan word.
Eerstens heers in die meeste van hierdie lande groot armoede. Die beleidmakers beskou tradisionele groei in die vervaardigingsektor as ’n beter werkskepper as ekotoerisme.
’n Tweede tema wat uit die navorsing blyk, is dat dié wat die grootste geraas maak, soos die anti-jagbeweging, deur daardie beleidmakers ook die beste gehoor word. ’n Derde tema was voedselsekerheid. Daardie regerings meen tradisionele landbou pleks van wildplase is die oplossing daarvoor, het Moodliar gesê.
19 Oktober 2011