
Onpatriotiese selfsug, swak beleid en wetgewing wat nie toegepas word nie, is die ondergang van die Suid-Afrikaanse landboubedryf en verdryf wit én swart boere van die plase.
In ’n striemende aanval op die Regering het mnr. Aggrey Mahanjana, sekretaris-generaal van Afasa, en besturende direkteur van die Nerpo-groep, hierdie beperkende faktore genoem as redes waarom die bedryf wankel en boervestiging nie kan vlot nie.
Mahanyana het op die nasionale RPO-kongres in Bloemfontein die Regering daarvan beskuldig dat hy nie ’n gunstige ekonomiese klimaat vir boerdery en boervestiging skep nie. “Jy kan nie van voedselsekerheid praat as jou beleid daarteen gemik is nie,” sê hy.
Sy raad aan swart en wit boere is om saam te werk.
Volgens Mahanjana se indeling van die land se boergroepe is daar tans 30 000 gevestigde kommersiële boere met sowat slegs 2 000 in ’n groepering wat hy die eerste geslag kommersiële boere noem. Die derde groepering is volgens sy beraming 2,8 miljoen kommunale huishoudings wat as bestaansboere optree.
Die Regering se grootste fout, volgens hom, is dat net na die belange van die derde groep omgesien word, terwyl die eerste groep kommersiële boere vervreem word. “Al die goeie veranderinge wat deur die Regering se boervestigingspoging bewerkstellig word, word ongedaan gemaak deurdat die middelste groep boere, waarvan ek een is, oor die hoof gesien word,” sê hy.
Hy sé die nuwe kommersiële boere word benadeel in hulle pogings om hulle boerdery-eenhede uit te brei en die onsimpatieke politieke omgewing dra ook geensins by dat sukses behaal kan word nie. Hy vertel dat hy tydens die arbeidsonrus in die Wes-Kaap radio’s in sy boerdery verbied het uit vrees dat die arbeidseise na sy gebied kan oorspoel.
As voorbeeld van die onpatriotiese selfsug wat die land verteer, noem Mahanjana ’n voorbeeld van ’n voornemende produsent wat appels wil verbou. ’n Kommersiële buurman het toe aangebied om hom kosteloos met voorligting te help. Die uiteinde van die sage was egter toe ’n tender van sowat R7 miljoen aan iemand anders toegestaan is met die buurman wat steeds as mentor optree.