
Twee van die verdagtes wat weens die aanval op mnr. Derek Mathews, voorsitter van Graan SA, en sewe familielede op sy plaas by Sannieshof in 2020 in hegtenis geneem is, is tot twee jaar tronkstraf gevonnis waarvan vyf jaar opgeskort is vir die besit van gesteelde eiendom. Die drie ander verdagtes is vrygespreek.
“Wat sê ’n mens? Dit is in ’n sekere opsig traumaties en uiters teleurstellend. Die aanranding is nie eens in ag geneem nie,” sê Mathews.
Hy vertel met hul aankoms vir die begin van die hofsaak op 8 Februarie verlede jaar, 'n Maandagoggend, het die staatsaanklaer gesê dat hy nog nie die dossier gelees het nie.
“Hy was totaal onvoorbereid. Toe ons hom vra of die vroue in kamera kan getuig sodat hulle nie die verdagtes hoef te sien nie weens die poging tot aanranding, is daar vir ons nee gesê. Die landdros het gedreig om die saak uit te gooi indien ons daarop aandring.”
Hy beskryf wat ná die plaasaanval met die hofsaak gebeur het, as ’n nagmerrie. Behalwe vir die dag waarop die hofsaak begin het, en ’n verskyning waar hulle moes getuig, het hulle geen verdere inligting oor die hofsaak ontvang nie. “As ek nie gebel het om te vra wat van die saak geword het nie, sou ek tot vandag toe nie geweet het wat die uitslag van die saak was nie.”
Hy het as gevolg hiervan geen meer vertroue in die land se regstelsel nie. “Glad nie. Die mense is nou op vrye voete. Wie sê hulle gaan nie terugkom nie? Wat nou?”
Dit bevestig volgens hom dat ’n mens in Suid-Afrika met moord kan wegkom en laat hom totaal magteloos voel. “Ek is nie iemand wat kla nie. Ek is van nature ’n optimistiese mens wat al verskeie geleenthede gehad het om boerderye in ander gedeeltes van die wêreld te begin. Ek het gekies om te bly. Ek is die vyfde generasie op die plaas.
“ ’n Mens maak daarop staat dat die regstelsel een van die pilare van ons samelewing is, maar as reg en geregtigheid nie geskied nie, is daar nie meer hoop nie.”
REGSTELSEL OORLAAI EN GEBREKKIG
Volgens hom is die regstelsel tot so ’n mate oorlaai dat staatsaanklaers nie die mas kan opkom nie. Die staatsaanklaer vir hul saak het vyf of ses sake gelyktydig hanteer. “Hy het my nooit gekontak nie. Hy het nooit ’n onderhoud met my gevoer nie. Hy het nog nooit ’n gesprek aangeknoop behalwe as ek hom genader het nie. Hy het nie die tyd daarvoor nie.
“Hy het gedoen wat hy moes en die argumente in die hof gevoer, maar hy het duidelik te veel sake op sy rol. Hy is net een mens en kan dit nie doen nie. So kwaad soos wat ek vir hom is, help dit eintlik nie ek is vir hom kwaad nie, want dit is die stelsel wat gebrekkig is.”
Hy vertel hy het AfriForum ná sy eerste ontmoeting met die staatsaanklaer drie keer genader het vir hulp. Daar is elke keer gesê iemand sal hom kontak, maar niemand het nie.
Hy het geen idee wanneer die vonnisoplegging plaasgevind het nie. Hy het gedurende die naweek navraag by die ondersoekbeampte daaroor gedoen. “Niemand het vir my gesê nie. As ek nie gevra het nie, sou die verdagtes op vrye voete gewees het sonder dat ons daarvan weet.”
Daar is volgens hom geen simpatie vir diegene wat aan geweld bloodgestel word nie. In dié hofsaak se geval was die geweld nie eens ter sprake nie, hoewel al vyf aanvallers erken het dat hulle geweld gebruik het. “Die bewyse en foto’s van my vrou se beserings is nie gebruik nie. Die vyf verdagtes is slegs aangekla vir die besit van gesteelde eiendom.”
Suid-Afrka se grootste probleem is dat daar geen gevolge vir misdaad is nie, sê hy. “Ek is ’n groot voorstander van menseregte, maar die oomblik dat jy my menseregte skend, verloor jy jou aanspraak op menseregte. Dan geld dit nie meer nie.”
Die gebrek aan gevolge laat ’n mens in ’n toestand van hopeloosheid. “Hoe moet ’n mens ’n toekoms bou in sulke omstandighede? Ek het nooit regtig begryp hoekom mense die land verlaat nie, maar nou begin ek dit insien.”