
Voorbereidings vir vanjaar se Agri Megaweek is aan die gang en besoekers aan dié ekspo kan vanjaar weer ’n stampvol program verwag. “Die fokus bly op die produsente, verskaffers en verbruikers van landbouprodukte, aangevul deur ’n sterk ekspo-klem op toerisme en die buitelewe,” lui ’n mediaverklaring van Mega Events.
Die temas van bespreking- en inligtingsessies deur kundiges gemik op die kommersiële boer sluit in die verantwoordelike verbruik van hulpbronne, soos water, asook ’n werkbare strategie om plaasaanvalle en -moorde te bekamp. Die interaktiewe plaaswerkersprogram en trekkerbestuur-kompetisie sal na verwagting ook groot byval vind.
Iets vir almal
Die program bied vermaak vir besoekers van alle ouderdomme, met ’n kompetisie vir die aanwysing van die vleisbees-interraskampioen, die SA Boerboeltelersverening se Boerboelskou, reptiel-demonstrasies en die Mega PetEx interaktiewe troeteldierskou. ’n Verskeidenheid groot- en kleinvee-rasse sal ook te siene wees.
Suid-Afrika en die Overberg se toerisme-potensiaal, -bestemmings, -infrastruktuur en –geleenthede sal ook onder bespreking wees, terwyl buitelewe-verwante produkte soos sleepwaens, veldvoertuie, fotografietoerusting en klerasie onder meer omvattende blootstelling sal kry.
Agri Megaweek vind vanaf 13 tot 16 September by Megapark op Bredasdorp plaas. Rig navrae aan Mega Events by 021 863 1803 of 028 424 2890.