
Suid-Afrikaanse bewaringsinstansies se besluit om wild ’n ekonomiese bate vir private grondeienaars te maak, het wildgetalle eksponensieel laat groei.
Die land is ’n voorbeeld van oordeelkundige natuurbewaring, sê dr. George Hughes, voormalige uitvoerende hoof van die destydse Natalse Parkeraad.
Hy het op die SA Jagters- en Wildbewaringsvereniging se jaardinee gesê die media het Suid-Afrika nooit die nodige krediet gegee dat hy die beste wildlewebedryf in die wêreld het nie.
Kenia het in 1974 téén die doodmaak van enige groot soogdier besluit en sy jagbedryf vernietig, maar so ook die geleenthede vir gemeenskappe en private grondeienaars beperk om geld uit die bestuur van wildlewehulpbronne te maak.
Hughes sê bewaringsbesluite van pres. Paul Kruger en die Natalse koloniale regering in die laat 1800’s is waaraan Suid-Afrika eintlik vandag sy groot wildbevolkings te danke het. In ’n stadium was daar net 30 suidelike witrenosters oor, vandag staan die getal in Suid-Afrika op sowat 20 000.
Hughes sê tussen 1986 en 2007, toe die Natalse Parkeraad al ’n semistaatsinstelling was wat geld kon verdien, het die instansie meer as 200 000 stuks wild gevang en na ander plekke vervoer. In die vyftigerjare is diere op groot skaal in die organisasie se parke uitgedun, maar toe is besluit om dit te vang en aan boere te bied.
Geen boer het opgedaag toe die diere gratis aangebied is nie, maar sedert ’n prys gemaak is – die eerste jaar was dit R1,50 per rooibok – het die vraag groter as die aanbod gebly en die pryse bly styg.
Die organisasie het in 1998, die jaar wat Hughes hoof geword het, sy eerste wildveiling gehou om markkragte die pryse te laat bepaal, met groot sukses.
“Toe wild aan sake-ondernemings en private grondeienaars beskikbaar gestel is, het pryse die hoogte in geskiet.” Dit het volgens Hughes tot ekonomiese groei gelei en vandag is daar 20 000 private wildsplase.