Verantwoordelikheid is nodig om die Suid-Afrikaanse wildbedryf volhoubaar verder te laat ontwikkel. Dit sal tot voordeel van die land en ál sy mense wees omdat dit ’n werklike en sinvolle oplossing ten opsigte van voedselsekerheid vir die groeiende bevolking bied.
Mnr. Norman Adami, ondervoorsitter van Wildbedryf SA, het op die spogdinee waar die Wildboer van die Jaar in Pretoria aangewys is, gesê die groot welslae wat nou in die bedryf behaal word, bring ook groot verantwoordelikheid.
Sedert 2007 het die veilingspryse van die topvyf-wildsoorte met gemiddeld bykans 50% gestyg. Die waarde van gesogte diere het nóg vinniger toegeneem. Dit het nie net wildboere bevoordeel nie, maar ook die hele land.
Die ekonomiese impak van wildboerdery se waardeketting beloop sowat R10 miljard per jaar wat sorg vir ’n groot toevloei van buitelandse geld, talle werkgeleenthede word geskep en die ekologie word verbeter en bewaar.
Skaars wildsoorte word nie net vir Suid-Afrika bewaar nie, maar dit dien as kernbron vir die hervestiging van diere wat in die res van Afrika uitgesterf het.
Kruispad
Die bedryf staan egter nou by ’n kruispad, want die welslae bring ’n verantwoordelikheid oor hoe die bedryf verder bestuur moet word om die beste volhoubare produksie te handhaaf en hoe hy sy verhouding met die res van die gemeenskap moet uitkerf.
Die suksesvolle hantering van dié kwessies sal nie net die bedryf én wildboere se welslae vorentoe bepaal nie, maar ook ’n belangrike invloed hê op die geslagte wat die bedryf in die toekoms moet oorneem.
Die toekoms kan rooskleurig wees as eenheid bewerkstellig en professioneel opgetree word, want die roekeloosheid van ’n paar kan almal swaar tref.
Transformasie moet aandag geniet, kennis moet uitgeruil word, genetiese vordering is noodsaaklik en biosekerheid se waarde mag nooit onderskat word nie omdat dit onlosmaaklik gekoppel is aan die bedryf en die omgewing se volhoubare toekoms, het hy gesê.
12 Maart 2012