Die bedryf van kommersiële wildplase en natuurbewaring gaan hand aan hand en indien dit behoorlik bestuur word, kan dit ’n groot bydrae tot die land se ekonomie lewer, sê dr. Gert Dry, ondervoorsitter van Wildbedryf SA (WRSA).
Dry is een van die sprekers wat van 10 tot 13 Oktober aan ’n internasionale wildsimposium in Kimberley deelneem. Die vierdaagse byeenkoms van wildboere, akademici en bewaringsbewustes is die sewende internasionale simposium oor dié onderwerp en die derde wat in Suid-Afrika aangebied word.
Streef na 'n gesamentlike doel
“Die werk van natuurbewaringsagentskappe en die kommersiële wildsbedryf sal ondermyn word as ons nie alle belanghebbendes kan oortuig dat, al verskil die twee bedrywe, hulle een gesamentlike doel nastreef nie,” sê hy.
Dry bespreek die bydrae van die wildbedryf tot die groen ekonomie in ’n land waar slegs 17% van alle landbougrond ’n hoë produksiepotensiaal het.
Die Suid-Afrikaanse wildbedryf het in 2009, sowat R7,7 miljard tot die land se bruto binnelandse produk bygedra. Die bedryf se omset het die afgelope 15 jaar teen 20% per jaar gegroei, sê Dry.
Suid-Afrika word as ’n wêreldleier erken op die gebied van die ontwikkeling van die wildbedryf as ’n alternatief vir ander veeteeltvertakkings. “Die inkomste uit die wildbedryf kom nie net uit jag nie,” sê ’n woordvoerder van die simposium se organiseerders.
Ontwikkeling
Die bedrywe wat ook daarby baat vind, is onder meer toerisme en aspekte wat met die bedryf geassosieer word, soos kuns en handwerk en die ondersteuningsdienste, soos veeartseny, huide en velle en taksidermie, wat ’n groot bydrae tot die ontwikkeling van landelike gemeenskappe lewer.
Dr. Philippe Chardonnet, voorsitter van die reëlingskomitee van die internasionale wildsimposium, sê die onderwerpe onder bespreking is onder meer die nuwe maniere hoe die sosiaal-ekonomiese voordele van die wildbedryf in samehang met die bewaring van die biodiversiteit bevorder kan word.
Vir nog inligting kan die webwerf www.iwrs.co.za besoek word en navrae kan gerig word aan die sekretariaat by: kruger@kruger-associates.com.
6 September 2011