
Wildpryse is op die afdraande pad, ongeag waarna ’n mens kyk, sê mnr. Ernst Janovsky, hoof van Absa-Agribesigheid se sentrum vir uitnemendheid. Dit was veral die pryse van kleurvariante wat verlede jaar skerp gedaal het, maar hy sê hierdie daling moet gesien word teen die toename in getalle. Die omset is dus nog daar.
Janovsky sê die pryse van party wildsoorte sal vanjaar waarskynlik verder daal, maar daar sal ook meer wild van daardie soorte verkoop word as in vorige jare. Hy verduidelik dat diere se veilingspryse besig is om ál nader aan hul werklike ekonomiese waarde te beweeg.
“As jy na buffels se pryse die afgelope jaar kyk, sal jy sien dat hul pryse die beste hou omdat hulle reeds naby aan hul ekonomiese waarde in die veilingslokaal verhandel.”
Prysverhoudings
Hy verduidelik dat dit argumentshalwe R50 000 kos om ’n kommersiële buffel te jag. Die gemiddelde veilingsprys van ’n teelbuffel is in die omgewing van R250 000. Dít, sê Janovsky, stem ooreen met prysverhoudings in die veebedryf. “As jy ’n bees uit ’n voerkraal slag, kos hy jou sowat R10 000.
Sy teelwaarde sal dus sowat vier keer tot vyf keer sy kommersiële waarde wees.”
Daar is natuurlik uitsonderings met bulle wat R500 000 of selfs R1 miljoen behaal, maar, soos met uitsonderlike buffels, soos Inala, is dit die premie wat telers bereid is om vir baie spesifieke teelmateriaal te betaal.
Kwynende jagtersmark
Janovsky sê Suid-Afrika se wildbedryf sal vanjaar aandag aan sy kwynende jagtersmark moet gee. “Buitelandse jagters diskrimineer tans teen die land. Die Namibiese jagbedryf bemark aggressief teen Suid-Afrika se ‘kleinkampie- teelpraktyke’.”
Hy beveel aan dat Suid-Afrika sy jag-ondernemings meer ekstensief bedryf, al word die wild intensief geteel.
Mnr. Lood Bester van Wildswinkel stem saam. “Dit het tyd geword dat die wildteelbedryf nader aan sy eindverbruiker beweeg. Ons gaan vanjaar etlike jagveilings aanbied waarop jagpakkette wat op verskillende marksegmente gerig is, opgeveil sal word.”
Buitelandse jagters
Hy sê Suid-Afrikaners gaan hul jagveld op ’n deursigtige manier moet bemark. “Die land het prima jaggebiede van tot 30 000 ha groot waar die buffels en leeus wild rondloop en waar buitelandse jagters met graagte ’n premie betaal vir hul Afrika-ervaring. Terselfdertyd het ons plasies waar ’n pa en seun lekker kan kom blesbokke of springbokke jag op 500 ha. Die een is baie goedkoper as die ander, maar elkeen bedien ’n spesifieke mark. Ons moet net seker maak ons bereik die regte teikenmark wanneer ons hierdie twee verskillende jagplase bemark,” sê hy.
Bester is optimisties oor vanjaar en sê die wildbedryf het die droogte, die taai ekonomiese toestande en politieke onstuimigheid van verlede jaar taamlik gemaklik oorleef. Hy glo daar kan ’n oplewing in die verkope van wild wees. Hy stem saam dat kleurvariante se pryse steeds op ’n afwaartse kurwe beweeg, maar glo dat dit binnekort sal stabiliseer.
“Boere begin nou om daardie diere vir die jagveld te bemark en die jagpryse wat hulle sover verdien, wys dat ons naby aan stabiele, volhoubare prysvlakke is.”