
Hoewel die wildbedryf sterk in die Wes-Kaap groei, sien die belanghebbendes in dié bedryf nie hul weg oop om by die georganiseerde landbou se strukture in te skakel nie, het mnr. John Dürr, voorsitter van die Wes-Kaapse Rooivleisprodusente-organisasie (RPO), op sy organisasie se jaarvergadering op Piketberg gesê.
“Ons kan nie wag tot krisisse eers ontstaan voordat ons begin saamwerk nie,” was Dürr se boodskap aan die wildbedryf.
“Wildboere se plase, natuurreservate en parke bied die ideale omgewing vir probleemdiere om aan te teel,” het hy gesê.
Die afwesigheid van belanghebbendes in die wildbedryf op veediefstalvergaderings van die RPO en Agri Wes-Kaap met die polisie is ook ’n saak wat weer aandag sal moet kry.
Goeie biodiversiteitsmaatreëls tydens die verskuiwing van diere – selfs tussen plase asook vanuit ander provinsies – is ook ononderhandelbaar.
Almal in die veebedryf moet besef dat dit nie net ’n verantwoordelikheid jeens hul eie bedrywe is nie, maar ook ten opsigte van volhoubare voedselproduksie.
Dürr het gesê boere moet sorg dat hulle geld maak uit die rooivleis-waardeketting. Daarom moet hulle weet wat in supermarkte aangaan.