
Die Regering oorweeg dit om die spesiale grondplafon van 12 000 ha wat voorgestel is vir wildplase, hernieubare energie en bosbou, na 5 000 ha (dieselfde plafon as vir groot kommersiële plase) te verlaag sodat daar meer grond vir herverdeling beskikbaar is.
Die idee is dat enige “oorskotgrond” deur die Regering onteien en herverdeel sal word. Mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, het in die Parlement gesê hierdie verlaging is voorgestel deur gewone burgers met wie sy departement gekonsulteer het ter voorbereiding van die Wetsontwerp op die Regulering van Grondbesit.
Afgesien daarvan om plaasgroottes te beperk, het die wetsontwerp ten doel om grondbesit deur buitelanders uit te skakel. Dit sal aanstaande jaar in die Parlement gedebatteer word.
Volgens me. Adri Kitshoff-Botha, uitvoerende hoof van Wildbedryf SA (WRSA), sal só ’n beperking ’n uiters nadelige uitwerking hê op wildboere se vermoë om ’n betekenisvolle bydrae tot Suid-Afrika se bewarings- en toerismepotensiaal te lewer.
Kitshoff-Botha sê omdat Suid-Afrika uit nege biome bestaan, sal enige voorgestelde universele maksimum eiendomsgrootte nie geskik wees vir ál nege provinsies nie. ’n Wildboer in die Karoo sal byvoorbeeld ’n baie groter plaas as ’n wildboer in Kwazulu-Natal nodig hê sodat sy bedrywighede kommersieel lewensvatbaar kan wees.
Verder sê sy Suid-Afrika se status as tuiste van die Groot Vyf-diere maak van hom ’n mededingende toerismebestemming. Byna ’n driekwart van die land se wild is in privaatbesit.
’n Derde of sowat 20 000 van die land se witrenosters is op private grond, wat die wildbedryf die belangrikste bewaarder van dié ikoniese dier maak, naas die Suid-Afrikaanse Regering.