
Suid-Afrika se wildbedryf het dringend nuwe regulering nodig omdat die bestaande wetgewing grootliks uitgedien is vir die situasie wat vir vandag geld, sê dr. Gert Dry, voorsitter van Wildbedryf Suid-Afrika (WBSA).
Dry het tydens die 43 ste jaarlikse kongres van die SA Vereniging vir Dierewetenskappe by die Universiteit van Pretoria gesê 16,8% van Suid-Afrika se marginale, onekonomiese en semi-woestyn-landbougronde is deur die wildbedryf in volhoubare ondernemings omskep.
Talle private wildplase was vroeër in ekonomiese terme marginale diere- en/of gewasproduksie-eenhede wat in doeltreffende ekonomiese eenhede omgeskakel is. Hierdie plase is nie, en was nooit bewaringsgebiede nie.
“Die huidige wetgewing is ontwikkel nog vóór die wildbedryf tot ‘n R11 miljard per jaar bedryf gegroei het en daarom is dit nie meer relevant nie. Die huidige dilemma is dat die konstitusie tans gelyktydig bevoegdheid het oor bewaring én oor die omgewing en dit skep onoorkomelike uitdagings. Daarby het die bedryf tans te make met 10 owerheidsinstellings, naamlik die nasionale én die nege provinsiale bewaringsinstansies. En dié terminale siek nasionale owerheid kan nie in hierdie stadium meer gesond gedokter word nie,” sê Dry.
Suid-Afrika se wildbedryf stel dus voor dat geskikte wetgewing vir die bedryf ontwikkel word wat die bedryf ruimte sal bied om te groei en te ontwikkel en sal toelaat dat dit as ‘n nasionale bate gereguleer kan word.
“Die wildbedryf sal sy volle samewerking gee met die saamstel van ‘n nasionale groei-agenda wat werklike vooruitgang vir die bedryf sal verseker. Daarby behoort ‘n toepaslike, afsonderlike lynfunksie (‘n tak- of agentskap in regeringsterminologie) met ‘n wetlike mandaat om die wildbedryf te reguleer binne die departement van omgewingsake gevstig word,” het Dry gesê.