
'n Rekordprys van R5,2 miljoen vir 'n jaaroud volbloed-hingsvul het die renperdbedryf na sy asem laat snak op die jaarlikse Cape Premier Yearling Sale in die Moederstad.
Mnr. Piet du Toit, 'n wildboer van Rustenburg, het die Suid-Afrikaanse rekordprys van R5,2 betaal vir dié vul, Shining Knight. Die vul is uit die vaar Dynasty en Shina (Duitsland), van die Maine Chance Farms van Robertson.
Volgens 'n toeskouer het twee bieërs die aanwesiges se monde laat oophang toe 'n bod vir dié vul met een roep van R4 miljoen tot R5 miljoen verhoog is. Die bod is kort daarna op R5,2 miljoen toegeslaan.
Du Toit, wat die onderwys vir 'n wildboerdery verruil het, is in sy noppies oor dié aankoop van dié vul. Die perd sal vernoem word tot Tsunami, en hy sal in die Kaap bly onder die sorg van die top-afrigter, Mike Bass.
Du Toit het ook R2,5 miljoen opgedok vir 'n jaaroud-merrievul, Live Life, uit die Avontuur-stoetery van Somerset-Wes.
Altesaam 200 jaaroud-vullens is ingeskryf vir die Cape Premier Yearling Sale in die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum. Sowat die helfte van die vullens is Donderdag (22 Januarie) opgeveil, terwyl die res van die jong perde Vrydagaand onder die hamer sal kom.
Die omset op die Donderdag-veiling was R60,2 miljoen, teen 'n gemiddelde prys van R620 619.
Die veiling word deur die Cape Thoroughbred Sales© en AgriExpo aangebied.