
Dr. Lucas Mampane, direkteur van die veeartsenydiens in Limpopo, moes bontstaan om wildboere van Wildbedryf SA (WRSA) se Ellisras-bedryfskamer te paai toe hulle hom onlangs voor stok gekry het oor die logistieke uitdagings wat verband hou met die trek van bloed by buffels voordat hulle verskuif kan word.
Wildboere het op die kamer se jaarvergadering kapsie gemaak teen die reël dat ’n staatsveearts altyd teenwoordig moet wees wanneer die buffels se bloed getrek word, berig die Noordelike Nuus.
“As ’n private veearts die bloed trek, maak dit tog nie sin om die staatsveearts ook daar te hê nie. Ek moes al in die verlede die werkers, helikopter en private veearts op my plaas los en 500 km ry om die staatsveearts te gaan oplaai omdat hy nie ’n voertuig gehad het om mee te ry nie,” het een boer gesê.
Nasionale kantoor en wetgewing
Mampane het gesê hy moet volgens wetgewing van die nasionale kantoor optree. “Op die ou end is die wetgewing rakende die skuif van enige wild daar omdat ons gesondheidsrisiko’s wil beperk en die verspreiding van siektes wil voorkom, maar die wet is nie in klip vasgelê nie.
“Ek sal enige voorstelle wat ons werk kan vergemaklik, aan die nasionale kantoor voorlê vir oorweging,” het hy gesê.
Die reis- en oortydtoelaag van staatsveeartse het ook onder skoot gekom. Party boere sê die departement se maandelikse reisperk van 2 300 km is te min, en dat hulle die staatsveearts gereeld na-ure moet kontak omdat hulle bedags in afgeleë gebiede werk met beperkte selfoonontvangs.
Doeltreffende diens
“Die Regering poog om uitgawes van staatsamptenare so laag as moontlik te hou, maar dit moet natuurlik opgeweeg word teen die werklike uitgawes wat nodig is om ’n doeltreffende diens te lewer,” het mnr. Phillip Bronkhorst, ’n safari-operateur van Lephalale, gesê.
Op die vergadering genoem dat’n tekort aan voertuie bestaan en dat geen nuwe voertuie verlede jaar ontvang is nie. Daar is toe voorgestel dat die boere saam met die departement aan ’n oplossing werk.
Só kan wildboere byvoorbeeld ’n voertuig borg wat uitsluitlik vir die neem van bloedmonsters by buffels gebruik kan word.
Verhoudings
Mampane het gesê daar is nie ’n verhouding van wantroue tussen die staat en private veeartse nie, maar dat dit bloot in hierdie stadium op wetgewing neerkom.
“As ’n departement besef ons dat Limpopo een van die grootste struikelblokke is wat wildsiektes betref.
“Die provinsie grens aan verskeie lande en daarom maak dit ons werk soveel moeiliker, maar ons waardeer die bydrae wat die private sektor lewer en sal enige voorstelle deur boere en ander belanghebbendes verwelkom.”