
Wildkenners en -boere vanoor groot dele van die wêreld kom van 11 tot 16 September vir die negende Internasionale Wildboersimposium in Windhoek, Namibië, byeen om oor sake te gesels wat wildboere en ander betrokkenes raak.
Dit sal op die potensiaal van wildboerdery in Afrika en ander dele van die wêreld fokus, met die klem op bewaring van wild in hul natuurlike omgewing asook op die welsyn van landelike gemeenskappe.
Die groot aantal lesings sal op die praktiese aspekte van wildboerdery val, terwyl akademici ook hul kennis sal oordra. Lesings oor wildbestuur sal onder meer uit die volgende onderwerpe bestaan: bekamping van wilddiefstal, renosterboerdery, intensiewe, semiuitgebreide en uitgedreide wildboerdery, die teelt van skaars spesies, siektebestuur, bestuur vir trofeegehalte en voeding en drakapasiteit van die veld.
Daar sal ook talle lesings oor toerisme wees, terwyl trofeejag, taksidermie, uitvoerregulasies, jag, wildvleis en die teel van roofdiere en krokodille ook bespreek sal word. Die tweede Afrikabuffelsimposium word ook gehou. Dit sal onder meer fokus op die benutting van buffels vir toerisme en vleis, asook die nuutste ontdekkings oor gene, siektebeheer en bewaring.
Die byeenkoms word by die Safari Hotel in Windhoek gehou. Verdere inligting is beskikbaar op die webwerf www.iwrs.co.za; of kontak die projekkoördineerders: Amélia Wassenaar, tel. 012 335 6994 of epos: amelia@iwrs.co.za; en Zelda von Schauroth, epos: savanna@iway.na.