In ’n tragiese voorval in Ohio, Amerika, is 48 wilde diere doodgeskiet nadat hul eienaar hulle vrygelaat het.
Mnr. Terry Thompson (62) het dié diere, wat tiere, bere en leeus insluit, vrygelaat voordat hy glo selfmoord gepleeg het deur homself te skiet.
Die plaaslike polisie het angsbevange inwoners aangesê om in hul huise te bly terwyl hulle die diere op en in die omgewing van Thomson se plaas van 30 ha gejag het.
Motoriste in die omgewing is ook gewaarsku. Een van die tiere wat doodgeskiet is, het 136 kg geweeg. Volgens die plaaslike sheriff, mnr. Matt Lutz, was die diere baie groot en aggressief. Hul enigste opsie was om die diere te skiet.
Probleme
Thompson is voorheen 11 keer van wreedheid teenoor diere aangekla en het onlangs tronkstraf uitgedien nadat hy skuldig bevind is weens die besit van ’n ongeregistreerde vuurwapen. Hy en sy vrou, Marian, was volgens Associated Press ook diep in die skuld.
Veeartse het van die ontsnapte diere probeer verdoof sodat hulle die diere lewend kon hou, maar dit was in die meeste gevalle te gevaarlik.
Me. Barbara Wolfe, ’n plaaslike veearts, het een van die diere verdoof, maar die dier het opgestaan en in haar rigting gespring. Die dier is hierna doodgeskiet.
Bron: Associated Press en Die Burger
21 Oktober 2011